ABERDEEN NUUS - Logan Africa, 'n gr. 7-leerling verbonde aan Kamdebo Primêr in Lotusville (Aberdeen) het verlede Sater-dag tydens die provinsiale ronde van die Sanlam WOW (Words Open Worlds) spel-feeskompetisie tweede in die gr. 7-afdeling geëindig.
Die provinsiale kompetisie vir die Oos-Kaap area is in Gqeberha aangebied waar Logan meegeding het teen skoliere van verskeie ander skole in die Gqeberha-distrik.
WOW is 'n bemagtigingsprogram van die Universiteit Stellenbosch Woordfees. Die Sanlam WOW-spelfees is die omvangrykste en grootste spelkompetisie in die land en word aangebied in al nege provinsies.
Omdat die finale kompetisie jaarliks by die Universiteit Stellenbosch gehou word, bied dit jong leerders op vroeë ouderdom reeds 'n voorsmaak van die universiteit en geleenthede wat die instansie bied.
Met Logan se pragprestasie het sy deurgedring tot die nasionale finale kompetisie wat op 15 Oktober by Universiteit Stellenbosch gehou sal word.
Daar sal Logan meeding teen die finaliste uit die ander agt provinsies. Logan het die ondersteuning van ieder en elk in Aberdeen en omgewing, maar veral is dit die betrokke onderwysers, mnr. Dorfling en die skoolhoof, mnr. Pieterse, wat nie uitgepraat kan raak oor hierdie ster van Kamdebo Primêr nie.
"Logan is werklik 'n briljante kind en dis 'n voorreg om deel van so 'n kind se opvoeding te kan wees. Sy wys vir almal dat ons hier in Aberdeen darem ook iets reg doen met ons leerlinge," het 'n trotse Dorfling geskerts.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'