KAROO NUUS - Adendorpers het onlangs besluit om self in te spring om hul hoofstraat van die slaggate te herstel.
Na 'n informele gesprek op die gemeenskap se WhatsApp-groep het staatmaker-inwoners begin planne maak en plaaslike besighede genader om hulp.
N1 Konstruksie het 'n drom teer geskenk, Karan Beef het vir die res van die roumateriaal gesorg en masjinerie is deur Multi Tool Hire beskikbaar gestel.
Met skenkings van die gemeenskap is daar genoeg kontant ingesamel om 'n paar werkers te huur en is daar teen vroegdag op Woensdag 11 Oktober aan die werk gespring.
Volgens Hennie Pienaar, plaaslike inwoner van Adendorp word die munisipaliteit al vir 'n lang tyd maandeliks deur die wykskomiteelid vir infrastruktuur in kennis gestel van die toestand van die strate in Adendorp.
Pienaar sê dat geen terugvoering ooit ontvang is nie en die inwoners neem nou eie inisiatief om hul omgewing en strate veiliger te hou.
"Hoewel ons nie in een dag by alles kon uitkom nie, is ons trots op wat ons vermag het. Die gemeenskap vind dit onaanvaarbaar dat die munisipaliteit dit oorweeg om geld te spandeer om Adendorp se naam te verander na iets of iemand wat in die geskiedenis nog nooit 'n rol in die ontstaan, ontwikkeling of instandhouding van Adendorp gespeel het nie. Maak dit nie meer sin om eerder eers die infrastruktuur te onderhou as om geld te spandeer om sinnelose naamsverandering nie?" vra Pienaar.
Pienaar voer verder aan dat dit 'n bekommernis is dat die hoofstraat van Adendorp se teer oppervlak nie ontwerp is vir die swaar verkeer wat dit moet hanteer nie.
Teenstrydig met die besware wat genoem is tydens die besprekings van die omgewingsimpakstudies wat destyds gedoen is om die nuwe stortterrein te magtig, gebruik DBNLM-trokke Adendorp as hoofroete vir hierdie doel, en speel dus 'n groot rol in die verweer van die straat sonder om verantwoordelikheid daarvoor te vat.
Die Advertiser het verskeie versoeke aan die munisipale woordvoerder gerig vir kommentaar en om hulle die geleentheid te gee om aan te dui wat hul plan van aksie is rakende die toestand van die area se paaie, maar teen druktyd is geen terugvoering ontvang nie.
Die vrywilligers het voor gevat en is deur lede van die gemeenskap met verversings en ondersteuning aangemoedig. Net 'n bewys dat waar 'n gemeenskap saam staan, kan positiewe verandering floreer.
Met hulp van plaaslike besighede en die gemeenskap kon inwoners self vir verbetering sorg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’