KAROO NUUS - Die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV) het ontstaan in 1900 in Cradock, toe 'n groep vroue besluit het om hulp te bied in die konsentrasiekampe.
Verlede week, 123 jaar later, het Cradock ACVV op 22 September hul algemene jaarvergadering by die Hoekhuis in Cradock gehou.
Die Kaaplandse ACVV is amptelik in 1904 in Kaapstad geregistreer.
Carin van Rensburg, hoof maatskaplikewerker by ACVV Cradock, het op die vergadering aangekondig dat 'n addisionele maatskaplike werker en 'n maatskaplike hulpwerker by Cradock ACVV aangestel is.
Dit bring die totaal van maatskaplike werkers op drie, met die maatskaplike hulpwerker wat hulle bystaan. Verder val verskeie outehuise in ander sentra ook onder maatskaplike dienste van Cradock ACVV, onder die leiding en beheer van Carin van Rensburg.
Die outehuise is die Elizabeth Jordaantehuis in Cradock, Huis Karee in Middelburg, Nerinahof in Dordrecht, Huis Silwerjare in Somerset Oos, Aalwynhof in Aberdeen, Huis van de Graaff in Graaff Reinet en Huis Corrie Dreyer in Adelaide.
In Cradock bestuur die ACVV ook verskeie addisionele instellings, insluitend Betesdahuis, Hasie Kalbassie Speelgroep en Sonskyn Dienssentrum in Michausdal.
Daarbenewens het Small Steps, 'n pleegsorghuis vir kinders onder 10, op 1 Oktober in Cradock geopen, en gaste is genooi om op daardie dag 'n geskenk vir die huis saam te neem. ACVV bied ook ondersteuning aan hulpbehoewende leerders by plaaslike skole en 'n maatskaplike werker is op 'n weeklikse basis beskikbaar vir krisishantering. Dwelmmisbruik bly 'n probleem in die Oos-Kaap, 'n provinsie sonder spesialis sorgfasiliteite.
"Tydens die afgelope finansiële jaar het Cradock ACVV 5 197 mense met ons dienste bereik," het Van Rensburg gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’