CRADOCK NUUS - "Ek is so trots op die personeel van ACVV Cradock wat ook hul deel op Mandeladag gedoen het."
So sê Caren van Rensburg, hoof-maatskaplike werker by die ACVV.
Volgens haar het hulle hierdie jaar ingespring en die lokaal wat by die landdroskantore gebruik word vir kinderhofsake, verfraai.
"Kinders moet eintlik nie eers besef hulle is naby die hof nie, en ons het besluit dat hierdie lokaal die lekkerste speelplek moet wees vir seuns en dogters wat reeds deur ‘n moeilike tyd is.
"Alles is uitgepak, reggemaak, skoongemaak en reggepak. Fransien Smith, wat in beheer is by die pakkamer by die ACVV, maak al lankal reeds pragtige speelgoed bymekaar vir hierdie spesiale vertrek. Al die speelgoed in die lokaal was lankal stukkend en daar was geen verskeidenheid nie.
"Ons wil immers hê dat kinders in ‘n veilige en kindervriendelike omgewing moet gaan getuig. Ons kon speelgoed uitpak en die lokaal is mooi en kleurvol ingerig."
"Dit gaan ‘n reuseverskil maak aan kinders wat onder spanningsvolle omstandighede moet gaan getuig. Ek is so trots op elkeen wat vandag so lekker saamgewerk het."
Die span van ACVV het vir Mandeladag die kinderkamer by die landdroshof verfraai.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'