ABERDEEN NUUS - Nadat die Aberdeen-belastingbetalers op 8 Februarie besluit het om self die dorp skoon te maak, het die inwoners van hierdie Karoodorpie nog nooit opgehou nie.
Onder leiding van Freek Janse van Rensburg, Hommie Slabbert, Mornay Marx, Christo Lategan en Johan Lategan, wat die nodige finansiële inspuiting vir die inisiatief gegee het, het Riaan van Heerden en sy span groot gedeeltes van die dorp skoongemaak en vullis weggery.
Andries Jonkers (alias Daniel Rasta) en sy donkiekarspan, Marshall Skeepers, Naldo Jonkers (alias Samson) en Llewellyn Frolik werk ook hard om die dorp skoon te hou. Hierdie span het in 'n opebrief aan die gemeenskap gerig hulleself beskikbaar gestel om te help, omdat die munisipaliteit se dienslewering nie na wense is nie.
Die donkiekarspan het reeds verskeie strate getakel sonder enige verwagting om vergoeding.
Onder leiding van Cornelia Cronjé het die dorp ook 'n vullisherwinningsproses van stapel gestuur. Drie vullissakke vir onderskeidelik blik, papier en plastiek word by huishoudings afgegee, en dan weer opgelaai vir herwinning sodat minder vullis na die stortingsterrein hoef te gaan.
En nou is dit silwerskoon!
Leë beloftes
Volgens die Aberdeen-belastingbetalers het daar net mooi niks van die beloftes gekom wat die munisipaliteit tydens 'n vergadering op 11 Februarie gemaak het nie. Die tien werkers wat die munisipaliteit sou stuur om die dorp skoon te maak het nooit opgedaag nie.
Intussen gebruik die munisipaliteit nou al meer as 'n maand lank die verskoning dat hulle wag vir beskermende toerusting vir die werkers. Daar was tot dusver ook geen terugvoer oor die nuwe vragmotor en laaigraaf soos belowe nie.
Die geskeduleerde opvolgvergadering tussen die belastingbetalers en Aberdeen se areabestuurder, Clive Kombani, wat op Dinsdag 16 Maart sou plaasvind, is afgestel weens Kombani se ma se dood.
Riaan van Heerden en sy span hard besig in die begraafplaas.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'