ABERDEEN NUUS - NG Kerk Aberdeen se Vrouediens het onlangs ‘n spoggerige modeparade aangebied waartydens plaaslike vroue die geleentheid gekry het om in die pragtige klere van die winkel, Maak Baie Mooi, te pronk.
Engela James, voorsitter van die Vrouediens, het almal welkom geheet waarna die leraar van die NG-gemeente, ds. Clifford James, die geleentheid met Skriflesing en gebed geopen het.
Die plaaslike vroue het toe gesorg vir groot vermaak met die modeparade wat gevolg het.
Die gasspreker vir die dag was Chantelle Theron (néé Pretorius) en haar toespraak was baie bemoedigend.
Sy het vertel van die uitdagings wat sy as gehoorgestremde in die gesig gestaar het en hoe sy dit kon oorkom bloot omdat sy die regte gesindheid gehad het. Theron glo dat geluk nie gebaseer is op hoeveel jy het of kan kry nie.
“Lewe eenvoudig, verwag min, en gee baie” is volgens haar die geheim tot ‘n gelukkige lewe.
Wat Saterdag se funksie so spesiaal maak is dat dit die eerste
Vroueverenigingfunksie in ‘n baie lang tyd is. Volgens Miems van Loggerenberg het hierdie funksies jare gelede doodgeloop omdat die Vrouevereniging nie juis aktief was nie, maar sedert die aanstelling van James in June het sy vrou, Engela James, weer lewe in die Vrouevereniging geblaas en het hulle die aktiwiteite hervat.
Christelle Nel (links) en Miems van Loggerenberg (regs) het ook aan die modeparade deelgemeem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’