ABERDEEN NEWS - Aberdeen VLV se Oktober-byeenkoms op die plaas Eenzaamheid by Stephanie Theron was onlangs ’n hoogtepunt, aangesien die vroue vir maande weens Covid-19-inperking nie kon vergader nie.
Christelle Nel vertel dat die groep die heerlike warm lentedag geniet het, na erge koue in die Aberdeen-distrik. “Ons was omvou met berge reg rondom ons, en het vergader in die koelte van ’n reuse ou akkerboom.”
VLV-lid Lea van der Vyver het die groep verwelkom, waarna Elna van Niekerk die geleentheid afgeskop het met Skriflesing.
Nadat belangrike VLV-sake bespreek is, het Theron die dames na die plaas se lemoenboord geneem, waar hulle meer hieroor kon leer, sowel as die prag van die bloeisels kon geniet. Daarna is die vroue op ’n toer deur die plaas se gastehuis, om onlangse veranderinge te besigtig.
Natuurlik was daar ook lekker eetgoed, voorgesit op die jaghuis se stoep. Die groep het die geselligheid geniet, en sien uit vir die volgende geleentheid.
Aberdeen VLV-lede kuier heerlik saam. Agter: Elise Steynberg, Christelle Nel, Stephanie Theron, Lizé de Jager, Carina Esterhuizen en Karen van Rensburg.Voor: Lea van der Vyver, Elna van Niekerk en Suzanne Lategan.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'