ABERDEEN NEWS - Die dames van Aberdeen VLV het vir die April 2019 vergadering straataf gestap en te voet twee plekke in die dorp besoek wat deur Suzanne Lategan, sameroeper van openbare sake, gereël is.
Die eerste stop was die departement van sosiale ontwikkeling se sentrum voor die polisiestasie, die slagofferondersteuningskantore. Hier het projekbestuurder Yvonne Frazenburg en haar medewerkers Bernado de Vos en Debbie Blaai, lede vertel van die werk wat hulle in die gemeenskap doen.
Die sentrum dien as trauma-eenheid waar ‘n slagoffer van enige geweld of mishandeling kan aanmeld om hulp en berading te ontvang. Daar is gereeld voorvalle van huishoudelike geweld en seksuele misbruik wat aangemeld word. Die sentrum tree egter ook pro-aktief op deur opvoedingsprogramme by skole aan te bied wat kinders leer hoe om veilig te bly.
Tuisbesoeke word ook in die gemeenskap gedoen en vroueprogramme word aangebied. Verder werk hulle nou saam met die polisie, kliniek, hospitaal en die hof om ‘n volledige diens aan slagoffers te bied.
Die tweede stop was Standard Bank, waar Nadier Flippies lede vertel het hoe die nuwe Standard Bank App vir selfone werk en watter dienste daarop beskikbaar is.
Terug by die Aberdeen-klub is VLV-sake en -projekte bespreek.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'