ABERDEEN NUUS - Vir Aberdeen VLV se Oktober-vergadering is daar gefokus op Sirkel Middelland se 85-Projek vir die Sirkel se 85ste verjaarsdag.
Carina Esterhuizen, Leefstyl Saamroeper, het vooraf 85 kolwyntjies gebak en ook botterversiering sowel as fondant-blommetjies en -blaartjies gemaak. Die dames het die oggend begin deur saam die kolwyntjies te versier.
Daarna is uitgereik na werkers van al die verskillende plaaslike dienssentrums in Aberdeen, waar lede oral met groot verbasing en dankbare harte verwelkom is.
Dienssentrums waar kolwyntjies uitgedeel is sluit die kliniek, speurtak, hospitaal, Slagoffer Ondersteuningssentrum en die polisie in. By Aalwynhof Tehuis vir Bejaarders is daar kolwyntjies vir beide die werkers en inwoners gegee.
Marguerite Beneke is ook besoek – Aberdeen se eie bekende glaskunstenaar wat die tak ondersteun. Daar het lede die geleentheid gebruik om na haar kunswerke te kyk. Beneke het ook haar nuutste reeks Fantasieblomme in die studio gewys.
Die dag is afgesluit met ‘n heerlike middagete by die Camdeboo Padstal. Almal is met warm harte huis toe met die wete dat daar met 'n klein gebaar harte aangeraak is.
Lede by die 85 versierde kolwyntjies: Estelle van Wyk, Luise de Jager, Christelle Nel, Heidi Lombard, Lize de Jager, Jean Watermeyer en Carina Esterhuizen.
'Ons is bring jou die nuutste Aberdeen, Klein Karoo nuus'