ABERDEEN NEWS - Vir Aberdeen VLV se Mei-vergadering is die Gesondheid-portefeulje aan die beurt gestel.
Met Winter op hande het Sameroeper Heidi Lombard wyslik besluit om op gesonde leefwyse te fokus.
Heidi Lombard het die Herbalife-span, naamlik Leonie Mulder van Jansenville met haar helpers Charmaine Fourie en Ria Krause aan die woord gestel, waarna Mulder meer oor Herbalife se produkte en leefwyse gesels het.
Na ‘n gesonde hoenderslaaitjie wat stylvol in ‘n fles bedien is, het Lombard vir Judith Dardis aan die woord gestel - sy het vertel hoe sy by massering, refleksologie en reiki betrokke geraak het. Vandag bedryf sy ‘n salon vanuit haar huis in Aberdeen. Dardis verduidelik die kuns van refleksologie en wat elke drukpunt op die voet is - die hele liggaam word basies in die voete verteenwoordig. Sy demonstreer refleksologie op Stephnie van Zyl, wat dit terdeë geniet het.
Die gelukkige trekkings van die dag is gewen deur Charmaine Fourie, Elise Steynberg en Estelle van Wyk. Voorsitter Lea van der Vyver isi ook gelukgewens met haar verjaarsdag en Heidi Lombard het namens die tak ‘n kunswerk van Marguerite Beneke aan haar oorhandig.
Agter: Annalie Lategan, Judith Dardis, Elise Steynberg, Stephnie van Zyl, Estelle van Wyk, Suzanne Lategan, Elna van Niekerk, Jean Watermeyer, Cornelia Cronjé, Carina Esterhuizen en Leonie Mulder. Voor: Lea van der Vyver met die kunswerk en Heidi Lombard met van die sakke klere wat ingesamel is.
'n Heerlike oggend is afgesluit met Elna van Niekerk wat die maak van ‘n materiaalblom gedemonstreer het. Daar was ook ‘n insameling van klere en huishoudelike benodighede wat aan die Greenbushes plakkerskamp in Port-Elizabeth geskenk gaan word.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'