GRAAFF-REINET NUUS - Vis in die Karoo? Klink vreemd, dus het die Aberdeen VLV-tak tydens hul Maart-byeenkoms gaan ondersoek instel.
Elna van Niekerk, dié tak se sameroeper vir Landbou en Tuinbou, het ‘n besoek aan Karoo Catch net buite Graaff-Reinet met bemarkingsbestuurder Trudi Bezuidenhout gereël.
Caroline Le Wack het hier ‘n voorlegging vir die VLV-lede gedoen wat hul meer rondom dié unieke projek - waar visse geteel en visprodukte vervaardig word - ingelig het.
Aangesien natuurlike vishulpbronne afneem terwyl die land se populasie toeneem, is dit belangrik om alternatiewe voedselbronne te ontwikkel vir voedselsekerheid.
Bemagtiging is ‘n hoeksteen van dié projek en lede van die plaaslike gemeenskap wat voorheen werkloos was, word opgelei om in dié besigheid te werk.
Francis Martins neem toe na die voorlegging die lede op ‘n tonneltoer waartydens hy al die werksaamhede verduidelik.
Volgens Martins, gebruik Karoo Catch beskikbare ondergrondse waterbronne in dié tonnels - die water word gesuiwer en verryk met suurstof en natuurlike voedingstowwe en die kwaliteit deurentyd gemonitor.
Aberdeen se VLV-lede tydens hul besoek aan Karoo Catch se vistonnels: Francis Martins (Karoo Catch), Luise de Jager, Elise Steynberg, Elna van Niekerk (sameroeper: Landbou en Tuinbou), Annalie Lategan, Suzanne Lategan, Christelle Nel, Lea van der Vyver, Lize de Jager, Karen van Rensburg, Adele de Jager en (voor) Heidi Lombard.
Water word ook hergebruik om vermorsing te voorkom.
Die vis word deur kunsmatige bevrugting geteel en gevoer totdat hulle groot genoeg is om verwerk te word.
Die spesiale viskos word gebruik word is deur Karoo Catch ontwikkel en maak gebruik van net die beste bestanddele - die viskos word ook plaaslik vervaardig deur Montego Pet Nutrition.
Die vis word verwerk in Karoo Catch se fabriek op Graaff-Reinet en die produkte is net so uniek soos die konsep van vis in die Karoo, naamlik wors en burgers!
Mens sou verwag dat dit soos vis proe, wat glad nie die geval is nie - die geure is ‘Pork & Lemon’ en ‘Beef’ en dis ‘n smaaklike voedsame proteïenbron wat maklik gaar maak.
Die leersame oggend is afgesluit met ‘n besoek aan die Polka-restaurant waar lede heerlik gesels en saam gekuier het.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'