ABERDEEN NUUS - Die Aberdeen VLV-tak het 2019 op ‘n positiewe noot begin met die jaar se eerste vergadering wat op gesondheid gefokus het.
Lea van der Vyver het al die lede verwelkom waarna Adele de Jager (sameroeper, Gesondheid) die vergadering met gedagtes oor liefde uit die Woord geopen het.
Na die afhandeling van ‘n paar VLV-sake het Adele die byeenkoms se eerste spreker, Santie Snyman, ‘n dieëtkundige verbonde aan die Middellandse Hospitaal in Graaff-Reinet, voorgestel.
Santie het die VLV-lede vertel dat ‘n dieëtkundige nie, soos die algemene publiek dink, net mense sien wat gewig wil verloor nie.
Haar kliënte sluit pasiënte met siektes soos diabetes, TB en prikkelbare dermsindroom in, asook die wat gewig moet optel en wat hoë cholesterol en bloeddruk het.
Santie het ook uitgebrei oor gesonde eetgewoontes en die feit dat dieëtkundiges nie aanbeveel dat sekere voedelgroepe uitgesluit moet word nie. Volgens Santie lê die sleutel tot gesond eet in matige porsiegroottes in die regte verhouding vanuit die verskillende voedselgroepe. “Dit is ook belangrik om die inname van bygevoegde suiker, sout en ongesonde vette te beperk,” meen Santie.
Hierna was Corli Schoeman van Alchemy Skin & Body in Graaff-Reinet aan die woord gestel.
Alchemy Skin & Body, word sedert November verlede jaar, onder die stuur van Corli en mede-eienaar Antoinette Ehlers in Graaff-Reinet bedryf – tussen dié twee het hul reeds 15 jaar se ondervinding in dié bedryf.
Die naam “Alchemy” beteken “unieke kombinasie” en hulle glo in ‘n unieke verhouding tussen kliënt en terapeut, sowel as kliënt en produk om ‘n gesonde balans te handhaaf wat kliënte tevrede sal stel.
Volgens Corli is die doelwit van Alchemy Skin & Body om stadsgeheime van skoonheid op ‘n bekostigbare manier in die platteland aan te bied.
Die salon fokus ook op die gesondheid van kliënte en help diegene wat siek was of emosionele stres beleef het om weer vernuwe te voel en die las ligter te maak.
Behalwe vir die standaard salon- en gesigsbehandelings werk hulle ook saam met fisioterapeut Adri Mentz en estetiese dokter, dr. Lehandi Maree, vir ‘n omvattende diens.
Corli het tydens haar praatjie vyf gelukkige trekkings gedoen, waar salon produkte en - behandelinge, as pryse uitgedeel is.
Die vergadering is afgesluit met ‘n gesonde, ligte Thaise-ete wat deur Estelle van Wyk en Judith Dardis voorgesit is.
Die byeenkoms se sprekers, Adele de Jager, Santie Snyman en Corli Schoeman saam met die voorsitter van die Aberdeen VLV-tak Lea van der Vyver.
Die Thaise-middagete.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'