ABERDEEN NUUS - Op Maandagaand, 29 Augustus, is die plaaslike polisie na 'n huis in Meintjiesstraat ontbied waar 'n man deur sy eie hond doodgebyt is.
Die polisie het intussen die man geïden-tifiseer as die 43-jarige Mario Olivier en bevestig dat 'n ondersoek aan die gang is.
Op hierdie stadium is dit onduidelik presies wat gebeur het. Dit blyk dat Olivier en sy hond op die ongelukkige oomblik alleen in 'n vertrek in die huis was.
Volgens twee betroubare bronne was die gebruik dat Olivier in die aande met die hond sou speel voordat hy die hond uit die huis geneem het.
Hierdie bronne was ook direk ná die voorval op die toneel, maar verskil oor waar die hond die man gebyt het. Beide bronne bevestig egter dat die hond 'n slagaar raakgebyt het.
Olivier het doodgebloei voordat hy mediese behandeling kon ontvang. 'n Familielid wat anoniem wil bly, het bevestig dat Olivier 'n vrybloeier was.
Volgens ao. Majola Nkohli, polisiewoord-voerder in die Sarah Baartman-distrik, vorm die omstandighede rondom die insident deel van die ondersoek.
Dierebeskermingsvereniging
Belinda Abrahams, woordvoerder van die dierebeskermingsvereniging, verduidelik dat dit tiperend is van kraghonde om psigologies vinnig aggressief te raak en dat eienaars van sodanige tipe honde altyd bedag moet wees op moontlike snellers wat die honde mag laat aanval.
Sy bekragtig ook dat snellers vir hierdie aggressie nie duidelik mag wees nie en onverwags kan manifesteer, ongeag hoe vriendelik en liefdevol die hond teenoor jou is.
Soos volgens voorskrifte vereis, is die hond - 'n Amerikaanse veghond - reeds Maandagaand direk na die insident in isolasie geplaas en op Dinsdag 30 Augustus deur die polisie na Graaff-Reinet geneem en is by Camdeboo Veterinary Clinic uitgesit.
Pit Bull-Federasie van Suid-Afrika
Volgens Lins Rautenbach, woordvoerder van die Pit Bull-Federasie van Suid-Afrika, moet 'n hond met 'n bytgeskiedenis of temperamentkwessie se lewe beëindig word.
Sy verduidelik dat 'n hond wat gebyt het nie byt-inhibisie het nie en dat hy dit dus weer sal doen; jy kan dit nie uit die hond rehabiliteer nie.
Sy voer aan dat daar wetenskaplike studies hieroor gedoen is en dat die wetenskaplike feit ongelukkig bo enige emosie geplaas moet word.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'