ABERDEEN NUUS - Kersfees in die Karoo, woorde wat sommer self die uitnodiging rig en 'n mens lus maak om juis daardie Kersfees te gaan soek.
Ds. Clifford James, leraar van die NG Kerk Aberdeen-gemeente sê dat die kerk hierdie jaar 'n ieder en 'n elk, niemand uitgesluit nie, uitnooi om op Sondag 26 November om 10:00, deel te neem aan die Kerssangdiens by die kerk.
Vanjaar is James se eerste Kersfees in Aberdeen as leraar van die gemeente, en hy is begeesterd oor die geleentheid.
"Dit was 'n uitsonderlike jaar. Ons het so drie weke gelede 'n dankdiens gehou en daar het die tema vir vanjaar se Kerssangdiens posgevat."
Die diens sal bestaan uit voorsang, lees van verskillende teksgedeeltes en die sing van Kersliedere onder die orrelbegeleiding van Johan Loubser van Humansdorp," sê James.
Volgens James kan Aberdeen se NG Kerk ongeveer 2 000 siele huisves en is dit toegerus met 'n uitsonderlike orrel, ideaal vir 'n geleentheid soos 'n Kerssangdiens.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’