ABERDEEN NUUS - Die inwoners van Aberdeen gaan steeds onverpoosd voort om op eie stoom die nodige dienste in hierdie besonderse Karoo-dorpie te lewer.
Ná talle mislukte pogings om met die Dr Beyers Naude-munisipaliteit in gesprek te tree oor die gebrek aan dienslewering in Aberdeen, het belastingbetalers op 8 Februarie vanjaar vragmotors vol vullis bymekaargemaak en by die plaaslike kantoor van die munisipaliteit gaan aflaai.
Belastingbetalers was in daardie stadium van mening dat hierdie demonstrasie nodig was omdat munisipale werkers maandeliks baie groot salarisse ontvang, maar verkies om dominos te speel of in die plaaslike begraafplaas op grafte te slaap in stede daarvan om te werk.
Sedertdien het die inwoners van Aberdeen groot gedeeltes van die dorp, insluitend die begraafplaas, baie netjies skoongemaak.
Talle inwoners is reeds betrokke by die skoonmaak en instandhouding van die dorp en daar word 'n beroep gedoen op alle inwoners om betrokke te raak omdat elkeen se bydrae, ongeag hoe klein, waardevol is.
'n Besorgde inwoner het onlangs kommer uitgespreek oor die Extended Public Works-werkers (EPW) omdat hierdie hulle glo die hele dag rondsit en niks doen, maar selfs hierdie werkers steek nou omtrent hand in die mou. Die samewerking is noemenswaardig.
Hantie Marx, voorsitter van die Aberdeen-boerevereniging, en sy span het ook begin om die slaggate in die dorp se strate op te vul en is reeds vir ongeveer twee weke lank daarmee besig.
Sommige inwoners het ook ander interessante inisiatiewe, wat positief bydra tot die dorp se ontwikkeling, van stapel gestuur. Een hiervan is Lizzy se Garden of Life-projek.
Hantie Marx, voorsitter van die Aberdeen-boerevereniging, en sy span het ook begin om die slaggate in die dorp se strate op te vul.
Dié projek is 'n mikroboerderyprojek wat daarop toegespits is om mense van alle lewensterreine te bemagtig om hulself te onderhou deur die verbouing van groente. Die basiese vaardighede wat benodig word vir die kweek van groente op kleiner skaal, en in gebiede wat andersins as ongeskik vir groenteverbouing beskou word, word aangeleer en deur die gebruik van 'n baie basiese hidroponiese tegniek kan mikroboere dan, binne bestek van agt tot 12 weke, volhoubare gewasse kweek en selfversorgend wees.
Die eerste Garden of Life-werksessie is op 15 Junie aangebied en altesame 73 inwoners van Aberdeen het daaraan deelgeneem.
Aberdeen maak voorwaar naam as die toonbeeld van onafhanklike selfbestuur en dit is daarom amper vanselfsprekend dat 'n onlangse meningspeiling op sosiale media aangedui het dat ongeveer 99% mense ten gunste daarvan is dat Aberdeen sy eie burgemeester moet hê.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'