ABERDEEN NUUS - "Kyk om jou rond... Wat jy hier sien lê, is nie rommel nie, dis geld," sê Siena Mentoor waar sy op 'n krat by Aberdeen se vullisstortingsterrein sit.
Mentoor, wat haarself beskryf as "die voorvrou van die tiep", is elke dag wat sy nie by haar "ander werk" is nie, by die stortingsterrein besig om rommel te sorteer en op te tel.
Op die oomblik fokus sy en haar spanmaat, Joshoa Smit, net op die vind en sorteer van plastiekbottels.
Smit sê Siena het hom vertel van hierdie geleentheid en waar hy voorheen totaal werkloos was, sit hy nou brood op die tafel omdat hy elke dag vir homself werk. "Dis vandat die 'recycle'-plek oopgemaak het, dat ek ook 'n bydrae by my huis kan maak. Dit maak 'n man sommer weer trots," sê Smit.
Op die hoek van Hope- en Jacksonstraat in Aberdeen by Hope Centre het Avril Smith met die hulp van Lizzie van der Merwe die Aberdeen-herwinningsentrum begin.
Die herwinningsentrum is nog maar in sy babaskoene en lank nie in staat om uitgawes te delg nie, laat staan nog om winsgewend te wees. Dit skrik Avril egter nie af nie. Sy het 'n driejaar-plan in plek en maak voorsiening daarvoor dat die eerste twee besigheidsjare nie teen 'n verlies sal loop nie. Op die oomblik betaal die herwinningsentrum geen kostes van die bedryfsuitgawes nie en is hulle vrygeskeld van huur.
"Maar dit kan nie so aangaan nie. In die tweede jaar moet ons ten minste van die uitgawes begin dra," sê Smith.
Van links is Mildred Smith, Avril Smith (eienaar), Michael Plaatjies, Elmarie Johnson, Jasmine George en Beronique Jafta.
"Dis hoekom ek en Michael (Plaatjies) so hard werk. Hy het sy eie besigheid hier, maar hy help my, en ek help hom, want ons moet vorentoe."
Smith sê sy het aan die begin van die besigheid niks van herwinning geweet nie en haar besigheidsvaardighede was maar beperk.
"Maar ons dorp benodig herwinning en ek leer elke dag meer."
Smith hou nougeset boek van alles; alle inkope word per hand genoteer in die "inkoop-boek" waar leweraars se besonderhede ook aangeteken word.
Die herwinningsentrum kan glad nie personeel bekostig nie en is aangewese op die hulp van vrywilligers. Tans is daar vier vrywilligers wat help by die sentrum.
Een van hulle, Beronique Jafta, sê dis vir haar belangrik om te help, want sy wil die dorp skoner sien en die wete dat plastiek herwin en weer gebruik word, eerder as net weggegooi word, maak haar trots.
Smith bevestig dat die herwinningsentrum aansoek gedoen het by die provinsiale departement om finansiering en wag vir terugvoer; sy is steeds vol hoop dat die munisipaliteit ook hulle steun aan die besigheid sal verleen, aangesien die munisipale vullisverwyderingsdiens geen voorsiening maak vir herwinning nie.
Die direkte volgende fase in haar besigheidsontwikkelingsplan is om plaaslike huishoudings aan te moedig om self herwinbare materiaal te sorteer alvorens dit tussen algemene vullis beland.
Sy beoog om sodanige materiaal op 'n weeklikse basis by huishoudings op te tel.
Avril Smith en Michael Plaatjies besig om die baler te voer. Foto's: Alex Lombaard
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'