ABERDEEN NUUS - Aberdeen-rugbyklub het Saterdag 5 Augustus in hulle laaste tuiswedstryd in die EPRU-Grand Challenge-liga teen Motherwell-rugbyklub van Gqeberha gespeel.
Die uitslag van die hoofwedstryd is die perfekte refleksie van die twee spanne se vertoning, 24 - 24.
Beide spanne se spelplan het hoofsaaklik gefokus op agterlyngedrewe aanvalle, wat gesorg het vir opwindende, vinnige hardlooprugby en volop drieë.
Heelwat van beide spanne se spelers het egter tydens sulke hardloop-fases ongeforseerde hanteringsfoute begaan.
In lynstane en skrums het die spanne se vertoning ook die eindtelling regverdig; die spanne het oorwegend gelyk getrek.
Aberdeen se verdediging het gedurende vanjaar se ligatoernooi aansienlik verbeter en was Saterdag se wedstryd 'n hoogtepunt in die vermoë om baldraers grond toe te bring en balbesit om te keer.
Met die laaste tuiswedstryd se stof wat Saterdag teen skemeraand gaan lê het, sal die komende Saterdagmiddae vir die Karoodorpie amper te stil wees. Nico Vywers, voorsitter van Aberdeen RFC, bedank elkeen van die klub se ondersteuners vir hulle steun gedurende vanjaar se liga. Hy sê die spelers daag op vir rugby, maar hulle speel vir hulle dorp se mense wat elke Saterdag getrou en met oorgawe langs die veld opdaag: "Ons hou by die BLOU!"
Hardlooprugby tussen Aberdeen en Motherwell.
Wanneer losgemaal ‘n stofgemaal word.
Die skrum is stewig en haaks.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’