GRAAFF-REINET NUUS — Die publiek se toegang tot Graaff-Reinet se Bergpad (Mountain Drive) en Piekniekbos gaan voorts ingekort word.
Dié twee populêre ontspanningsgebiede in Graaff-Reinet word so deur rommelstrooiers bemors dat die owerhede besluit het die stryd om dit te probeer skoon hou, terwyl die publiek vrye toegang tot die areas het, verbete is.
Met die mees onlangse vergadering van die Park Forum - ‘n komitee wat bestaan uit verteenwoordigers en belanghebbendes vanuit die hele gemeenskap - het die bestuur van die Camdeboo Nasionale Park besluit om die Mountain Drive-wandelroete vanaf Maandag, 12 Junie, vir voertuie te sluit.
Drawwers, stappers en fietsryers sal steeds hiervan gebruik kan maak.
Die Piekniekbos-area, geleë op die oewer van die Nqwebadam langs die R63 na Murraysburg, sal ook van vandag, Maandag, 12 Junie, deur die werksweek gesluit wees, maar op naweke (van 8vm tot 5nm) oopgestel word aan die publiek teen 'n fooi per persoon en voertuig wat dit gebruik. Sou dit na 'n tyd finansieël onbenullig wees, sal dit geheel en al gesluit word vir die publiek.
Diegene wat meer hieromtrent verlang, kan De Goede skakel by 049 892 3453.
'Ons bring u die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'