SUID-KAAP NUUS - Die Suid-Kaap Kinderkoor (SKK) het die afgelope naweek eerste plek verower (cum laude) in die 64ste Europese Musiekfees vir Jongmense-kompetisie wat in Neerpelt België gehou is.
Hulle het ook die eer gehad om die galakonsert te open en het boonop 'n TV-optrede gehad wat gevolg word deur 'n toer van België.
Die 55 koorlede van die Suid-Kaap Kinderkoor (SKKK) onder leiding van Jan-Erik Swart, het 'n puntetelling van tussen 90-96% in die mees ervare vlagskip-kinderkoor afdeling verower.
Nege topkinderkore uit Oostenryk, België, Pole, Duitsland en Spanje het vir die gesogte toekenning meegeding. Altesaam 27 Europese lande het aan die koorfees deelgeneem, waarvan die SKKK die enigste koor uit die hele vasteland van Afrika is wat genooi is om deel te neem, en hulle het ook die vêrste gereis om hier te sing.
Die verheugde koordirekteur Jan-Erik Swart vertel die week: "Die kinders het 'n program van sewe liedere aangebied, waarvan een (Magaliesbergse Aandlied) volgens die reëls eenstemmig en sonder begeleiding aangebied moes word; 'n voorgeskrewe lied met dans-en-klapbewegings, sonder die dirigent gesing moes word, asook een uitvoering van 'n werk deur 'n lewende Suid-Afrikaanse komponis (Peter-Louis van Dijk).
"Nadat die SKKK hul jurie-optrede in 'n stampvol Sint-Niklaaskerk voltooi het, en hul prys by die prysuitdelingsfunksie ontvang het, het hulle aan 'n luisterryke vlagparade deur die strate van Neerpelt deelgeneem. Daarna het hulle die gala-wennerskonsert voor die jurie, komponiste van die voorgeskrewe liedere en genooide gaste geopen."
Swart het bygevoeg dat die opwinding nie daar geëindig nie. "Later daardie aand het hulle op Belgiese TV, in die Dommelhof auditorium hul Afrika-danse en liedere aan 'n entoesiastiese skare van duisende mense tydens die ‘Happening-konsert’ ten toon gestel.
"Die volgende dag het die SKKK 'n 'verbroederingskonsert' saam met 'n Yslandiese-, Belgiese- en Duitse-koor in die Palethe Teater van Neerpelt aangebied, waar hulle 'n toekenning van die Neerpeltse burgemeester, die president van die fees, asook die plaaslike regering se kultuurhoof ontvang het.
"Hoewel die fees van 'n streng internasionale beoordelingspaneel van 31 koorspesialiste gebruik gemaak het, wat 'n uiters hoe standaard vereis het, was dit die bykomstige optredes, werksessies, sosiale aktiwiteite en samesyn van hierdie fees, wat vir 'n onvergeetlike ervaring vir die besoekende Suid-Afrikaners gesorg het."
Die triomfantelike SKKK keer Saterdag, na verdere optredes in Waregem, Tongerlo en Antwerp, na Suid-Afrika terug.
*Een van die trotse SKK-ouervereniginglede Melissa Mackay is tans besig om 'n Tuiskomskonsert te reël vir Vrydag 27 Mei (tyd en plek nog nie bekend nie) en hoop dat die koor, wat 'n gloeiende warm ontvangs ontvang het in België - die hele sprankelende konsert kan herhaal sodat die hele George dit kan sien.
Sy vertel met groot opgewondenheid, "Hulle optrede was eenvoudig net wonderlik. My tweeling Jade en Ashlea Smales en die hele koor het 'n ekstra groot poging aangewend met hul sang en danspassies wat uitstekend ontvang is."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Klein Karoo nuus'