GRAAFF-REINET NUUS — Die plaaslike korps van die landswye Rapportryersbeweging (RRB) - by name die Spandaukorps - het dié jaar op plaaslike vlak by die RRB se nasionale Ouboet-projek aangesluit.
Hierdeur word ’n groep seuns wat sonder ’n vaderfiguur grootword oor ’n naweek deur die lede van die beweging getrakteer.
Daar leer hulle onder meer kleilat gooi en hoe om vleis te braai.
Vier jong seuns verbonde aan Laer Volkskool is geïdentifiseer en voor-verlede naweek het die seuns saam met lede van die Spandaukorps toe vir 'n naweek van avontuur weggebreek.
Die Vrydagmiddag is daar kamp opgeslaan by die Urquhart-karavaanpark waar die Gideon's Bybelgenootskap onder leiding van Dr Willie Pieterse aan elk van die seuns 'n Bybel oorhandig het. Saam is daar toe oor hartsake gesels en gebid.
Die seuns is toe oorlaai met geskenke - die blydskap sigbaar op elk van die leerders se gesigte kon getuig van die dankbaarheid waarmee hul ontvangs geneem het van 'n drasak gevul met, onder andere, 'n t-hemp en rugbybal.
Daarna is daar heerlik ontspan en gespeel. Kort voor aandete - wat sou behels dat die seuns hul eie vleis moet braai - is die seuns verras met 'n visstok, katrol en visgerei vir 'n visvang-ekspidisie wat die volgende oggend sou plaasvind.
Die Saterdagoggend was die seuns reeds dou-voor-dag wakker en ywerig om by die viswaters te kom.
Die tydjie langs die oewer van die Nqwebadam is deur almal geniet, hoewel die wind die visse weggewaai het en die hengelaars met leë hande terug kamp toe moes keer.
Die middag het die kampeerders hul tente opgeslaan en geskuif na die plaas Melrose van Johan en Hanfi Nieuhoff. Met die aankoms op die plaas het Vanessa Nick, bestuurder by die Desert Springs Spur in haar persoonlike hoedanigheid die seuns met 'n heerlike ete verras.
Daar is toe langs die plaasdam - tussen die koeie en skilpaaie - weer tent opgeslaan waarna die seuns op 'n wildbesigtigingstoer geneem is. Hierna is hulle geleer skyfskiet en kleilat gooi voordat daar gewerkskaf is om 'n hoenderpot op die kole te kry.
Voor die ete het elke seun 'n Bybelversie voorgelees waarna daar 'n groepsgebed gehou is. Almal het toe heerlik gesmul het aan die pot waarna die oorskiet die volgende oggend opgeëet is.
Die Sondagoggend motreëntjie het die oppak bemoeilik, maar teen 10vm was al die kinders veilig en gelukkig tuis.
Dié naweek is moontlik gemaak deur die Korpsfondse asook goedhardtige bydraes van die gemeenskap van Graaff-Reinet. Die Spandaukorps bedank graag die volgende individue en instansies vir hul bydraes tot die projek: die Gideon’s Bybelgenoodskap, Camdeboo Spar, Kamdeboo Supermeat, Meats-slaghuis, Urquhart-karavaanpark, FNB, Lekkerbek, Dr Willie Pieterse, Vanessa Nick, Lisa’s Boutique, Compu-Serve, Oasis Water, Johan en Hanfi Nieuhoff - Melrose, Montego Pet Nutriution, Botha’s Garage, Nommerpas, Top Pondok, Heroldt Top Carpets.
Dié projek is een van talle projekte wat die Rapportryersbeweging jaarliks aanpak en sien die lede van die Spandaukorps reeds uit na Ouboet 2017.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'