GRAAFF-REINET NUUS — Marolien Schmidt wat in 2001 aan die Hoër Volkskool in Graaff-Reinet matrikuleer het, het op Sondag, 10 April, suksesvol deelgeneem aan die volle Ysterman-kompetisie (Ironman) in Port Elizabeth.
Sy het 3,8km in die see geswem in 1 uur 25 minute, 180km fietsgery in 6 uur 40 minute en 42km gehardloop in 4 uur 22 minute - alles op een dag!
Soos verlede jaar berig (Advertiser, 13 Februarie 2015) het Schmidt nooit voorheen kompeterend geswem, gehardloop of fi etsgery nie.
Sy het boonop ‘n vrees vir water gehad nadat sy op ‘n Karooplaas tussen Jansenville en Pearston grootgeword het.
Op bykans 30-jarige ouderdom het sy ‘n sielkundige gaan spreek om haar te help om haar fobie vir water te bowe te kom. Sy het ook ‘n swemafrigter gekry wat in samwewerking met die sielkundige vir haar leer swem het.
Sy het ook ‘n fi ets en ‘n paar drafskoene aangeskaf en het begin oefen vir die halwe Ysterman in Oos-Londen in 2013.
Sy het dit suksesvol voltooi. In 2015 het sy OP-klere in driekamp verwerf.
In 2015 het sy ‘n professionele afrigter aangeskaf om haar te slyp vir die volle Ysterman-kompetisie in Port Elizabeth in 2016.
Haar oefenskedule in Port Elizabeth en oor die Desembervakansie in die Wildernis het haar 240km laat swem, 5 252km laat fi etsry en 1 228km laat hardloop ter voorbereiding van die wedloop - ‘n totale afstand van 6720km oor 467 ure met die verbranding van 297 555 kalorieë.
Die afsnypunt vir die volle Ysterman was 17 uur. Haar doelwit was dit om binne 14 uur te voltooi. Sy het dit inderdaad in 12 uur 45 minute 57 sekondes voltooi. Dit is ‘n verbasende goeie tyd vir ‘n eerste poging.
Schmidt het weer eens geld ingesamel vir die Smile Foundation, ‘n organisasie wat operasies befonds vir kinders met gesigsgebreke wat hulle weerhou om te glimlag. Sy het voorheen eerste prys vir die meeste geld ingesamel gekry en het weer
eens meer as R20 000 ingesamel tydens die kompetisie, vir daardie doel.
Schmidt is ook verlede week benoem as Besigheidsvrou van die Jaar in Port Elizabeth in die professionele kategorie. Sy is ook in 2015 aangewys as die beste Fisioterapeut van die Oos-Kaapse Klub “My Training Day Triathlon Academy”.
Sy is ook onlangs opgeneem in die bestuur van die Fisiopterapie beroep in Suid-Afrika as Koderingskomiteevoorsitter vir 2017.
Van skool af het Schmidt al getoon dat sy kan kompeteer op die hoogste vlak. Sy het in Matriek die beker gewen vir die mees veelsydige leerling. Schmidt het werklik die slagspreuk van die Ysterman kompetisie gestand gedoen, naamlik - “Alles is moontlik”.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'