GRAAFF-REINET NUUS - Gerugte wat die ronde in Graaff-Reinet en omstreke doen op sosiale netwerke dat kinders ontvoer is en word, is bleikbaar van alle waarheid ontbloot
Die Graaff-Reinet Advertiser het navraag gedoen by die plaaslike polisiekantoor hieromtrent wat meld dat, alhoewel hul baie navrae kry oor die gerugte, daar nog niks van die aard aangemeld is by hulle nie.
Die nuutste gerugte meld dat daar kinders by Narsingstraat Primer vanoggend gegryp is.
Die Advertiser het nou net met die betrokke skoolhoof bevestig dat dit onwaar is. Hulle is bewus van die gerugte en veroordeel dit ten sterkste.
Daar is ook met die Middelburg- en Aberdeen-polisie geskakel oor gerugte wat hul dorpe betrek – dit is ook bevestig as onwaar.
Nêrens in Graaff-Reinet en omliggende dorpe is gevalle aangemeld waar kinders ontvoer is nie.
Daar word 'n ernstige beroep gedoen op lede van die gemeenskap wat die boodskappe versprei om eers inligting by die owerhede te bevestig voor daar kwaadwillige en onverantwoordelike kommunikasie versprei word wat tot massa histerie kan lei.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'