GRAAFF-REINET NUUS — Die NG Grootkerk-gemeente se jaarlikse Groot Kerk Kermis vind dié Saterdag, 10 Junie plaas.
Die kermis sou oorspronklik op die kerkterrein gehou word, maar met gure weer wat vir die naweek voorspel word, het die organiseerders dit goed gedink om die kermis eerder by die Botaniese Sportklub te hou.
Die basaar sal steeds om 8vm afskop met baie eetgoed wat te koop sal wees met, onder andere, die gewone pannekoeke en kerrie-en-rys wat beskikbaar sal wees.
Kom probeer ook die kerk se brêkvisburgers, potjiekos, braaivleis plus bykosse en basaarpoedings.
Daar sal ook heelwat tuisgebak, groot koeke, terte, beskuit en kleinkoekies te koop aangebied word. ‘n Teetuin gaan ook bedryf word waar Graaff-Reinetters kan ontspan met koffie of tee en ‘n soet- of southappie daarby.
Moet ook nie die immer gewilde kindertafel vergeet nie - hier sal heerlike lekkergoed vir die kleingoed verkoop word met gesigverf, “sandart” en vele meer om hul besig te hou.
Vanjaar is daar ook ‘n vleistafel beskikbaar waar tuisgemaakte boerewors en allerlei vleis-snitte teen billike pryse te koop sal wees.
Die wit olifant tafel word hierdie jaar ver-ander in lyn met die kerk se barmhartigheid standpunt; in plaas daarvan dat goedere wat geskenk word verkoop gaan die kerk eerder hierdie items onder minder bevoorregte gesinne in die gemeenskap uitdeel.
Hierdie kermis is jaarliks ‘n fees en is dit ook die eerste geleentheid waar Dr Ben van Tonder - die gemeente se nuwe leraar - betrokke sal wees.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'