GRAAFF-REINET NUUS — Inwoners van Spandauville en Bergendal in Graaff-Reinet het die week vir die soveelste keer hul ontevredenheid uitgespreek met toestande in dié woongebiede.
Die Graaff-Reinet Advertiser is Maandag, 22 Mei, geskakel deur 'n inwoner van Woekestraat in 'n desperate poging om aandag te vestig op 'n voortslepende kwessie waaraan munisipale amptenare glo geen aandag skenk nie.
Inwoners is al vir 'n geruime tyd ongelukkig oor, onder andere, die gras op die middelmannetjies wat nie gesny word nie en sypaadjies wat nie skoongemaak word nie en dat onbeboude erwe vinnig besig is om in vullishope te ontaard waar tuinvullis, bourommel en huishoudelike afval gestort word.
Inwoners beweer onder andere dat daar laas in Augustus 2016 ten tye van die verkiesing in die strate skoongemaak is en vat die onkruid die sypaadjies oor. Die sypaadjies is ook orals stukkend met straatnaamborde wat bruin geroes is of stukkend is.
"Die bottels en ander rommel wat in die strate neergestort word word ook nooit deur die munisipaliteit skoongemaak nie en moet inwoners maar self inspring as hulle moeg word om in dit vas te kyk," beweer een ontstoke inwoner. Hy voer aan, "Dit wil voorkom of die munisipaliteit hul slegs bekommer oor die perdeskoen gebied. Ons gee toe dat toeriste meestal die gedeelte besoek, maar is toeriste deesdae belangriker as die inwoners self?"
"Ek skaam my om gaste uit ander dorpe by my huis te verwelkom," meen 'n inwoner van Bergendal. "Wat moet hul van ons pragdorp dink as die strate vol drankbottels en wegneemetepakkies lê? Dit is vir enige iemand duidelik dat daar lank laas aandag gegee is aan dié gebied."
In reaksie op die klagtes het munisipale woordvoerder Leolynn Smith, namens die Dr Beyers Naudé-munisipaleit, gemeld dat die rede hiervoor grootliks toegeskryf kan word aan 'n tekort aan mannekrag. "Die regering se uitgebreide program van openbare werke (UPOW) het altyd gehelp om al Graaff-Reinet se woonbuurte skoon te hou. Sodra die UPOW-program weer aan die gang is, sal hierdie strate die hoogste prioriteit wees", sê Smith.
Inwoners is nie gelukkig oor die toestand van die woonbuurt nie.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'