GRAAFF-REINET NUUS — Op Vrydag, 19 Mei, het Huis Cronje - Hoër Volkskool se koshuis - in samewerking met die hoofborg van die dag, Wildman Graaff-Reinet, vir die vierde agtereenvolgende jaar ‘n baie suksesvolle springbokjagkompetisie aangebied.
Dié jaar het 15 spanne - wat elk uit vier jagters bestaan - hieraan deelgeneem.
Vroegoggend het al die deelnemende jagters by HVS se 'Volksie' bymekaar gekom waar die hooforganiseerder van die dag, Tokkels Lombard, al die reëls aan hulle verduidelik het.
Hierna het die jagter die onderskeie plase getrek waar hulle vir die dag sou gaan jag.
Elke jagter kon twee springbokke skiet.
Die jagters kon, in 'n bestek van vier ure, probeer om hul kwota bokke te skiet, waarna hul moes terugkeer Volksie toe vir die beoordeling van die bokke en skote.
Hier is daar gekyk na skootplasing, gewig en lengte van die horings onder andere om die wenners te bepaal.
Fantastiese pryse, vir spanne, asook individue, was op die spel.
Die span wat die eerste plek behaal het, het bestaan uit Abie Nel, Pieter Nel Snr, Stanley Reid en Rhadus Loots.
Dirk van Schalkwyk, Kosie van Schalkwyk, Izak van der Merwe en Theronie van der Merwe het die tweede plek verower met die span bestaande uit Kosie Wolfaardt, Buks Bekker, Jason Jacobs en George Hope in die derde plek.
Die dag se individuele wenners was (eerste) Rhadus Loots, (tweede) Phlippie Wolfaardt, (derde) Willem Mostert, (vierde) Neil Blom, (vyfde) Werner Kotze en (sesde) Stanley Reid.
Die beste skoot van die dag is afgevuur deur Kosie van Schalkwyk, met Ian van Huyssteen wat die bok met die langste horings geskiet het (op Ed Parks se plaas) en Jan Nel wat die swaarte bok vir die dag op Fanie de Jager se plaas geskiet het.
Na afloop van die prysuitdeling, is daar heerlik om die braaivleisvure gekuier en is die jagters getrakteer met heerlike kos.
Almal het die dag terdeë geniet.
Die koshuiskomitee van Huis Cronje bedank al die borge. ‘n Spesiale woord van dank word gerig aan Marius van der Westhuizen van Wildman Graaff-Reinet vir die ruim en getroue borgskap die afgelope vier jaar.
Inskrywings vir 2018 se kompetisie kan reeds bespreek word by vriespoort@gmail.com
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'