GRAAFF-REINET — Vir etlike jare reeds voer die Camdeboo Nasionale Park se bestuur 'n opdraande stryd teen rommelstrooiers in twee van Graaff-Reinet se ontspanningsgebiede: die Bergpad en Piekiekbos.
Die Bergpad, of te wel Mountain Drive, is vir menige 'n plesier om te kan wandel vir ontspanning, 'n populêre oefeningsroete vir talle fietsryers en atlete, en 'n plek waar Graaff-Reinetters met hul honde in die natuur kan stap.
Alhoewel dit nie tegnies deel uitmaak van die park nie, het die Park se bestuur destyds verantwoordelikheid geneem daaarvoor om vir die dorp 'n wandelroete so na as moontlik aan die natuur - verniet - te kon voorsien.
Piekniekbos, geleë op die oewer van die Nqwebadam langs die R63 na Murraysburg, is 'n soortgelyke ontspanningsarea wat die Park aan die inwoners van Graaff-Reinet voorsien - teen geen onkoste aan die publiek - waar Graaff-Reinetters en besoekers kan piekniek hou, braai, hengel en net bloot die natuur kan geniet en waardeer.
By 'n onlangse vergadering van die Park Forum - 'n komitee wat bestaan uit verteenwoordigers en belanghebbendes vanuit die gemeenskap - is daar egter besluit dat die stryd teen rommelstrooiers nie so kan aanhou nie.
Die Park staan tans 40% van sy werksmag elke Maandag en Vrydag af om dié areas skoon te maak en sukkel hulle steeds om voor te bly met die opruimingsaksies na talle besoekers tot die areas dit met rommel bestrooi het.
Volgens Parkbestuurder, Nick de Goede, ondervind hulle deesdae dat individue self hul huishoudelike vullis langs die Bergpad gaan strooi.
De Goede, het onlangs, op eie onkoste, borde wat waarsku teen rommelstrooing langs die Bergpad en in Piekniekbos aangebring, maar steur die skuldiges hulle nie daaraan nie.
Tydens die Park Forum se vergadering is daar toe besluit dat, indien daar nie dringend deur die publiek hierop ag geslaan word nie, dié voorreg om die areas te gebruik hul dalk ontneem mag word.
Volgens De Goede is dit geensins 'n stap wat die Park wil neem nie, maar word hul genoodsaak om dit te doen siende dat die ontspanningsgebiede vir almal daar is, maar dat sekeres wat daarvan gebruik word, nie genoeg respek vir die natuur, en diegene wat dit saam met hulle gebruik, toon nie.
Dalk word voorlopig beplan om - indien daar nie daadwerklik 'n vermindering in die rommelstrooing gesien word nie - die Bergpad te sluit vir voertuie (stappers en fietsryers sal steeds toegang hê) en om 'n fooi vir toelating tot Piekniekbos in te stel.
Voordat hierdie drastiese stappe geneem word, vra die Park dat Graaff-Reinetters dit sal verhoed deur die strooi van rommel in die gebiede onmiddelik stop te sit.
Met die Park se paaie wat instand gehou moet word, drade wat gepatrolleer moet word en ander broodnodige take wat in die Park self verrig moet word, kan die Park net nie aanhoudend soveel werksure afstaan om konstant agter rommelstrooiers skoon te maak nie en word die publiek se hulp gevra om te help dat dié ontspanningsgebiede behou word vir die gratis gebruik van Graaff-Reinetters en besoekers.
Die Park Forum het besluit om 'n proeftermyn van drie maande in te stel. Indien daar nie 'n verbetering in die strooi van rommel gesien kan word sal die Park begin met die instelling van die nodige stappe om te verseker dat rommelstrooiers nie toegang tot die gebiede kan kry nie.
Die publiek word gevra om hul samewerking te gee in die verband om te te verseker dat elke Graaff-Reinetter nogsteeds die natuurskoon teen geen onkoste kan geniet.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'