GRAAFF-REINET NUUS — Die sprekers van die Graaff-Reinet VLV-tak se April-vergadering, André Olivier en Andrew Knott-Craig van Midboard Finansiële Dienste, het tydens die byeenkoms 'n leersame lesing aangebied waardeur hulle onontbeerlike inligting aan die dames teenwoordig oorgedra het.
Die VLV-lede is bemagtig om voortydig - en met kennis gewapen- voorsiening te maak vir die sterftedag van 'n geliefde of hulself. Die noodsaaklikheid van 'n geldige testament is beklemtoon. Die belangrikheid van 'n lewende testament is ook uitgelig.
Hierna het Tanja Vosloo breedvoerig terugvoering gegee oor die 80ste jaarlikse konferensie sopas aangebied deur die VLV-tak van Despatch. Die VLV tema vir 2016 is 'Droom, Glo, Leef'.
Hermi Baartman, sekretaris van die Graaff-Reinet-tak, het toe die Mimi Lategan-trofee in ontvangs geneem wat sy verower het tydens dié konferensie vir haar skilderwerk, met die tema, “Iets kosbaar”.
Sy dra toe haar alleenspraak, 'Die liewe bordjie eetgoed' voor, wat sy in die woordkuns-kompetisieafdeling ingedien het.
Ria Krause bedank ter afsluiting die lede wat deelgeneem het aan die konferensie se kompetisies vir hul insiatief en deursettingsvermoë.
Die Graaff-Reinet VLV is tans besig met 'n 'armoede-projek'. Hoedjies, truitjies en skoentjies is deur Marénda Lückhoff gebrei wat aan behoeftiges in die dorp oorhandig sal word. Die projek duur steeds voort.
Graaff-Reinet VLV vier hierdie jaar hul 85ste bestaansjaar. Die funksie sal later in die jaar gevier word.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'