GRAAFF-REINET NUUS — Die Morning Star-koshuis van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se opleidingskollege in Graaff-Reinet dra sedert begin vanjaar ‘n nuwe baadjie nadat etlike miljoene rand spandeer is aan die opgradering van dié gebou.
Die gebou is geleë op die hoek van Woeke- en Liebenbergstraat in Spandauville en bied 'n tuiste vir die kollege se aspirante polisiebeamptes terwyl hulle hul studies voltooi.
Superway Construction (Pty) Ltd - 'n konstruksiemaatskappy van Pretoria wat aangestel is as hoofkontrakteur - het in Mei 2015 met die projek afgeskop en is daar gehoop om die projek binne 14-maande te voltooi.
Die projek het behels dat die gebou - wat met die verloop van tyd verinneweer het - 'n intensiewe gedaanteverwisseling ondergaan.
Die bestaande gebou is grotendeels afgebreek met slegs die skelet wat oorgebly het. Van daar is die gebou só mooi opgeknap (of eerder oorgedoen) met praktiese en estetiese veranderinge wat dit 'n ’n totale nuwe voorkoms gegee het.
Die oorspronklike voltooiingsdatum van die projek was 25 Julie 2016, maar as gevolg van verandering aan die omvang van die projek is 'n verlenging van tyd aan die kontrakteur toegestaan met 'n hersiene voltooiingsdatum van 20 Januarie 2017.
Die totale projekwaarde was R61 miljoen.
'n Gedeelte van hierdie geld is dan ook bestee in die plaaslike ekonomie deur werkskepping en geleenthede vir plaaslike diensverskaffers.
5% van die kontrak se waarde moes bestee word aan die indiensneming van plaaslike werkers en 25% van die waarde aan plaaslike verskaffers. Buiten dit is daar ook 32 Uitgebreide Openbare Werke-program (UOWP) leerders in diens geneem.
Die opgeknapte gebou bestaan nou uit 'n koshuis wat 150 studente kan akkommodeer, 'n ruim ten volle toegeruste eetsaal, kantore vir koshuispersoneel, twee klaskamers, konferensiefasiliteite, twee TV-kamers, gastehuis-fasiliteite en 'n ontvangslokaal en -kantoor.
Die gebou is op 30 Maart die jaar weer in werking gestel toe 102 tweedejaar- en derdejaarstudente van die Suid Afrikaanse Polisiediens se akademie in die Paarl wat tans besig is met hul BA graad in Polisiekunde hier ingetrek het.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'