GRAAFF-REINET NEWS — 'n Erg onthutse Frikkie Rossouw het verlede week, namens die Departement van Omgewingsake, die koerant gekontak met 'n pleidooi aan die dorp se inwoners.
Rossouw, 'n bewaringsbeampte, moes vroeg verlede Woensdagoggend 'n beseerde steenbokkie in Gideon Scheepers-rylaan in Bergendal gaan optel nadat dit deur 'n kar getref is en net so aan haar lot oorgelaat is.
Die bestuurder het aangery, maar gelukkig het 'n barmhartige samaritaan wat woonagtig is in die straat, die beseerde ooitjie by Natuurbewaring aangemeld.
Rossouw het die bokkie na die staatsveaarts gehaas vir behandeling maar ongelukkig was die ooitjie se inwendige beserings van só aard dat sy nie gered kon word nie - 'n tragieser nadraai is dat daar ook bevind is dat die ooitjie dragtig was ten tye van haar dood.
"Graaff-Reinet word deur 'n nasionale park omsingel en om dié rede is daar gereeld wildsbokkies wat in die strate van die dorp gewaar word," sê Rossouw.
"Motoriste moet asseblief by die spoedgrens hou en op hul hoede wees vir diere in die pad," meen Rossouw, "ons woon so te sê in 'n bewarea en Graaff-Reinetters moet probeer om alles in hul vermoë te doen om die kosbare wild te beskerm."
• Kontak Natuurbewaring by 049 892 3755 met enige navrae in die verband.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'