VICTORIA-WES NUUS — Die derde Boeremark van 2017 vind op Saterdag 1 April, by die Karoo Jaart op Victoria-Wes plaas.
Die Boeremark vind saam met die jaarlikse Veteraanmotorskou plaas. Die motors word langs die N12 op Victoria Wes voor Karoo Jaart waar die Boeremark plaasvind parkeer. Hier kan entoesiaste die motors bekyk en kopstukke met eienaars gesels.
By die Karoo Jaart Boeremark oorkant die straat kan markgangers gesellig kuier, koffie drink, vars plaasprodukte aankoop, ’n boereworsrol eet, pannekoeke vir die naweek bestel en ’n verrassing of twee by die vleisstalletjies raakloop.
Op versoek bly die Boeremark langer oop en sal besoekers van 8uur Saterdagoggend tot 2 uur Saterdagmiddag ’n draai kan maak en ook die geleentheid kry om die Veteraanmotors te kom bekyk.
Die belangstelling in die Boermark en die Veteraanmotorskou lok belangstelling van mense uit die onmiddelike omgewing maar ook van dorpe soos Loxton, Richmond, Murraysburg, Graaff Reinet, Beaufort West en sover as Kimberley.
Besoekers kan hulself gereed maak vir ‘n gesellige Karookuier op Victoria Wes.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'