GRAAFF-REINET NUUS — Die ACVV Beskermde Werkplek in Graaff-Reinet se industriële gebied is die pas afgelope naweek vir die soveelste keer deur rowers geteiken.
Tydens die heel nuutste voorval is daar deur die yster vensterrame gesaag om toegang tot die perseel te kry waarna die instansie se rekenaars en ander toebehore gesteel is.
Dit is die vierde keer binne die bestek van agt dae wat daar híér ingebreek is. Verskeie items so uiteenlopend soos kos en tuintoerusting is met die vorige inbrake gesteel.
Bestuurder Sarie Whitlock en haar kollega Danel Marx is emosioneel platgeslaan na die laaste inbraak siende dat hul pas van die vorige inbraak herstel het, toe die rowers weer toegeslaan het.
Kort na Whitlock haar tot sosiale media gewend het om haar misnoeë oor die nuutste voorval uit te spreek, het barmhartige Samaritane - by name Grassies Staal, Roy Petitt en X-Ray Sekuriteit - hulle te hulp gesnel en die vensters herstel en versterk met die gevolg dat die instansie se bestuur met geruste harte hul langnaweek kon geniet.
Die Beskermende Werkplek, wat in 1981 in Graaff-Reinet gestig is, is 'n nie-winsgewende organisasie vir mense met gestremdhede uit alle rassegroepe in Graaff-Reinet. Die instansie het dit ten doel om geleenthede te skep vir mense met fisiese, psigiese of geestelike gestremdhede, wat nie in staat is om in die ope arbeidsmark te kompeteer nie, om verskeie inkomste-genererende vaardighede aan te leer.
"Dit is tragies dat rowers só instansie keer-op-keer teiken," meen Whitlock. "Die Beskermde Werkplek is hier om 'n verskil in die gemeenskap te bewerkstellig. Die skuldige individue besef nie die skade wat hulle met hul gewetenlose dade berokken nie."
Volgens Whitlock het hul sekuriteitsmaatskappy weer eens Sondag vroegoggend iemand wat die perseel onwettig betree het betrap en hom toe aan die polisie oorhandig.
Die inbrake word tans deur die polisie ondersoek - 'n verdagte is in hegtenis geneem en die polisie is besig om die forensiese inligting te ontleed om te sien of die verdagte aan die ander inbrake gekoppel kan word.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'