ABERDEEN NUUS — Op Woensdag, 25 Januarie, het die Aberdeen VLV-tak die jaar op ‘n hoë noot afgeskop met ‘n Openbare Sake-vergadering gehou in die Klubsaal op die dorp.
Lea van der Vyver (voorsitter) het almal teenwoordig verwelkom waarna twee nuwe lede voorgestel is, naamlik Diane Nel en Carina Esterhuizen. Vier gaste, onder wie oud-voorsitter Mimi Latgegan, het ook die vergadering bygewoon.
Elna van Niekerk (sameroeper: Openbare Sake) open die vergadering met ‘n stukkie oor geloof in aksie.
Die eerste onderwerp van die dag is “Plaasveiligheid” en van Niekerk stel AO Du Plessis en sy assistant Van Breda van die Graaff-Reinet polisie voor. Hulle is spesifiek belas met plaasveiligheid en het baie ondervinding op die gebied. Plaasveiligheid is belangrik sodat boere ongesteurd kan boer om voedselsekerheid in die ekonomie te verseker. AO Du Plessis deel wenke oor selfverdediging en paraatheid, asook wat om tydens ‘n aanval te doen. Daar word ook geleentheid gegee vir vrae en verdere bespreking oor die onderwerp vind plaas tydens teetyd.
Vir ‘n bietjie pret tussen die gewigtige onderwerpe van die dag, deel Van Niekerk die vergadering op in twee groepe wat elk vrae oor verskeie lande in die wêreld moet beantwoord. Daar word gelag en kop gekrap en uiteindelik eindig albei groep gelykop.
Die laaste onderwerp van die dag is “Alzheimers en die wet” en Van Niekerk open die praatjie deur haar eie ondervinding tydens haar pa se siekte te deel. Daarna gee sy inligting deur oor die wetlike aspekte en die belangrikheid om betyds iemand aan te stel om die persoon se finansies te hanteer, voordat die siekte in ‘n gevorderde stadium is. Lede vra vrae en deel persoonlike ervarings. Daar is ‘n behoefte vir ‘n verdere praatjie oor die siekte vanuit ‘n mediese oogpunt en dit sal later die jaar gereël word.
Die vergadering word afgesluit deur idees oor moontlike gemeenskapsprojekte vir die jaar te deel. Daar word ook klere ingesamel vir ‘n weeshuis in Port Elizabeth. Die gelukkige trekking van die dag word deur Karin Pienaar gewen en Gloria Penniston gelukgewens met haar verjaarsdag.
Elna van Niekerk (sameroeper: Openbare Sake) saam met AO Du Plessis (regs) en van Breda (links).
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'