ABERDEEN NUUS — Verlede Woensdag, 15 Februarie, het die Aberdeen VLV vir ‘n praktiese Leefstyl-vergadering in die Klubsaal op die dorp byeen gekom.
Lea van der Vyver (voorsitter) het almal teenwoordig verwelkom en die vergadering geopen met ‘n boodskap oor vriendskap uit die Woord: "Vriendskappe is ‘n seën en ons moet iets van onsself gee om ‘n goeie vriendin te wees. In die proses saai ons liefde en vrede om ons, maar ervaar dit ook in ons eie harte."
Daarna is ‘n paar VLV-sake bespreek, waarna die praktiese deel van die vergadering afgeskop het.
Suzanne Lategan (sameroeper: Leefstyl) het werklik moeite gedoen om interessante brokkies van haar porefeulje deur te werk. Eerstens het elkeen ‘n lappie, naald en gare gekry en is daar stap vir stap gewys hoe om ‘n eenvoudige sneesdoekie houertjie vir jou handsak te maak. Daar is omtrent konsentreer en gelag - vir meeste was dit baie vreemd om die eerste keer in jare naaldwerk te doen!
Lategan gee toe aan elkeen ‘n glasflessie met verfrissende voetsout vir sagte voete en deel ook die resep oor hoe om dit self te maak. Daarna demostreer sy hoe om jou eie grimeerverwyderaar te maak sodat jy nie duur produkte hoef aan te koop nie.
Laastens het die fokus geskuif na kos en Lategan gee toe ‘n praatjie oor die bevriesing van geregte vir latere gebruik. Verskeie idees en resepte is gedeel waarna lede na die kombuis geskuif het. Hier begin toe nog ‘n praktiese sessie waar elkeen haar eie klein appeltert voorberei met voorbereide bestanddele wat Lategan gebring het. Dit sorg natuurlik ook vir groot pret en kreatiwiteit om elke tertjie uniek te maak.
Terwyl die appeltertjies bak, word beplande gemeenskapprojekte in meer detail bespreek. Annelize Lategan word gelukgewens met haar verjaarsdag en Lea van der Vyver wen die gelukkige lootjie.
Die vergadering word afgesluit met ‘n koppie koffie en eetgoed terwyl idees vir volgende vergaderings uitgeruil word.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'