HOFMEYR NUUS - Gert en Louise Lötter boer tussen Hofmeyr en Tarkastad. Hulle het in 2020, midde die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande grendeltyd, vier kleinkinders ryker geword in drie maande se tyd.
"Dit was nogal stresvol, maar ons geniet hulle nou elkeen so," vertel Louise entoesiasties.
Doopplegtigheid
"Twee van die vier is onlangs op die plaas deur ds. Marius Barnard, 'n gesinsvriend en predikant van Hofmeyr, gedoop dieselfde naweek van oom Flip Marais se 80ste verjaarsdag," vertel sy.
Louise is die oudste dogter van Heillie Marais, oom Flip se tweede vrou, wat in Desember oorlede is. Gert en Louise het ook al wyd bekendheid verwerf met hul betrokkenheid by Hofmeyr se skou.
"Daar was altesaam 45 gaste teenwoordig vir die doopplegtigheid in ons tuin, met 'n langtafelete op die stoep. Ons was bevoorreg om al ons naby vriende en ons hele familie by die geleentheid teenwoordig te hê."
Louise, haar susters en haar dogters en skoondogters, is almal kranige kokke en het dit dus nie ontbreek aan puik spyseniering nie.
Hul ruim tuin het volop kuierruimte gebied en almal kon vir 'n slag gesellig saam verkeer, terwyl persoonlik afstande gehandhaaf is.
Die vier kleinkinders is in drie maande tydens die grendeltyd gebore vir die bekende Lötter-egpaar, Gert en Louise. Hulle boer tussen Hofmeyr en Tarkastad.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'