GRAAFF-REINET NUUS - 'n 14-jarige seun het verlede Woensdagmiddag vermoedelik in 'n watergat in die Sondagsrivier langs die Urquhart-karavaanpark verdrink.
Kol. Moira Abrahams, van die SAPD in Graaff-Reinet, het Woensdag die voorval bevestig en gesê dat die seun se liggaam nog nie gevind is nie, maar dat die soektog die volgende oggend voortgesit sal word omdat dit te donker geraak het om verder te soek.
Op daardie stadium het die polisie vir reddingsduikers uit Gqeberha gewag.
Op Donderdag 15 Desember, het die polisie 'n amptelike verklaring uitgereik dat hulle die liggaam van die tienerseun gevind het.
Wyksraadslid Joy Williams het Maandag besoek by die familie van Milroy Booi afgelê om haar meegevoel aan hulle te betoon. Sy het genoem dat sy nie eens kan begin om te dink hoe hulle moet voel nie omdat dit wat hulle oorgekom het, so verskriklik seer is.
Bella Booi, Milroy se ouma, vertel dat hy daardie oggend vir haar so besonder mooi gelyk het.
"Ek het hom so gekyk, en toe hy wegstap het ek nog vir my man gesê dat die kind nou mooi grootword."
Volgens Booi en Zubaida Booi, Milroy se ma, het hulle geen idee gehad dat die kind dam toe sou gaan om te gaan swem nie. Zubaida verduidelik dat haar drie kinders, waarvan Milroy die middelste kind is, die dag na hul pa toe is omdat hy vir hulle nuwe tekkies sou koop.
"Net voor hy by die huis weg is, het ons nog na sy rapport gekyk en gesien dat hy slaag. Hy sou volgende jaar in gr. 9 wees," vertel Booi verder. Milroy was 'n leerder aan Nwqeba Secondary in uMasizakhe.
"Ek het op daardie dag nie eens enige gedagte gehad het dat iets so verskriklik sou gebeur nie, maar die middag toe my man vir my kom sê dat ons gou tot by Milroy se ouma moet gaan het ek onmiddellik die gevoel gekry dat iets fout is. My man was nog versigtig om vir my die waarheid te vertel en het net genoem dat Milroy in 'n bakleiery by die dam was en seergekry het. Ek was heeltemal oorbluf. 'By die dam?' het ek nog gevra. 'Hoe kan die kind dan nou baklei by die dam opgetel het? Hy was mos nie by die dam nie!'
"Eers toe ons daar kom het Milroy se oom (sy pa se broer) genoem dat hy verdrink het. Ek was soos iemand wat deurmekaar is. Ek kon nie glo dat dit die waarheid kan wees nie. Ek het die hele tyd gevra of hulle nie dalk 'n fout maak nie."
Volgens Zubaida het Milroy en een van sy skoolvriende by die watergat langs die Urquhart-park gaan swem. Daar het toe na bewering nog twee persone by die watergat opgedaag – 'n tienerseun en 'n jong volwasse man.
"Wat presies daardie dag daar by die watergat gebeur het, weet ek nie," sê Zubaida. "Die onsekerheid en die gerugte wat rondgaan pla my baie. Die storie wat in uMasizakhe die ronde doen is dat daar 'n bakleiery was en dat my kind nie verdrink het nie."
Booi noem dat die onbeantwoorde vrae dit vir hulle soveel moeiliker maak om berusting te vind.
"Ons hoor soveel stories. So baie mense wat sê dat daar 'n bakleiery was. Ek het vir myself gesê dat ek dit sal aanvaar as die lykskouing bewys dat Milroy verdrink het, solank hy net nie vermoor is nie, want dit het hy regtig nie verdien nie."
Isable Sondagh, Milroy se tante, noem dat sy ook hierdie gerugte gehoor het.
"Elkeen het 'n ander storie om te vertel, maar ons sal wel mettertyd uitvind wat die regte storie is," sê sy.
Milroy se liggaam is die volgende dag uit die watergat uitgehaal. Volgens sy ma en ouma is sy liggaam reg langs die klip waarop sy klere gelê het gevind.
"Dit is vir my baie vreemd dat ons hom die vorige dag glad nie kon kry nie. Ons het nog die jongman wat by die tienerseuns was gevra om af te gaan en te gaan kyk, maar hy het gesê dat die water te diep is," het Booi gesê.
"Ek mis die kind so verskriklik baie. Veral in die oggende as ek verby sy kamer loop en hom so in my geestesoog sien daar waar hy op sy bed lê en slaap. Ek het nou maar die bed weggeskuif sodat ek dit nie hoef te sien nie."
Williams beskryf hierdie insident as 'n absolute tragedie.
"Ek wil 'n beroep op die tieners van ons dorp doen om versigtig te wees. Maak seker dat jou ouers ten alle tye weet waar jy is en moenie geselskap hou met mense wat jy nie ken nie, veral nie op plekke waar julle alleen is nie," beklemtoon Williams.
"Ek weet dit is somer en ons kinders is lief vir water - hulle loop en soek sommer so waar hulle swemplek kan kry - maar ouers moet hul kinders ernstig vermaan om weg te bly van die dam af. Dit is nie 'n swemplek nie, dit is gevaarlik."
Die lykskouing het op Dinsdag 20 Desember plaasgevind maar Graaff-Reinet Advertiser het teen druktyd nog geen terugvoering vanaf die familie gekry nie. Die polisie het bevestig dat die oorsaak van die tienerseun se dood nog ondersoek word.
Raadslid Joy Williams (regs) by die ma, Zubaida Booi (links), en Bella Booi, ouma van die seun wat verlede week verdrink het.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'