HOFMEYR NUUS - ’n Man wat Woensdagaand, 25 Februarie by sy huis in Hofmeyr ontvoer is, is ongedeerd gevind en twee verdagtes is in hegtenis geneem.
Volgens ’n mediaverklaring deur Ivan Stock, areabestuurder van CDK Sekuriteit, is die man omstreeks 19:10 ontvoer kort nadat hy van die werk af gekom het.
Inligting wat ontvang is, dui daarop dat drie onbekende mans met vuurwapens die slagoffer se huis binnegegaan en hom met geweld in ’n wit Nissan NP200 gedwing het voordat hulle op die R390 in die rigting van Cradock weggejaag het.
Die slagoffer se familie het die voorval onmiddellik by die Hofmeyr-polisie aangemeld en besonderhede van die voertuig en verdagtes aan die owerhede verskaf.
Luister FM Nuus het Donderdagaand berig dat wetstoepassingslede, met ondersteuning van CDK Sekuriteit, vinnig gemobiliseer is om die voertuig se bewegings te monitor.
Omstreeks 20:45 is die voertuig by ’n sentraalgeleë gastehuis in Nxuba opgemerk terwyl dit die perseel verlaat.
Volgens Stock het beamptes onmiddellik die voertuig voorgekeer en twee verdagtes op die toneel in hegtenis geneem. Daar is beslag gelê op een 9mm-pistool, 17 lewendige rondes ammunisie, en een wit Nissan NP200, met ’n geskatte totale waarde van R350 000.
Die slagoffer is ongedeerd gevind.
Die ondersoek in beide dorpe duur voort.
Die polisie en plaaslike owerhede het hul waardering uitgespreek teenoor alle rolspelers, insluitend Cradock SAPS K9-eenheid, Komani CI, Cradock CI, Cradock SAPD Pops-eenheid, Cradock SAPD Vispol en CDK Sekuriteit, vir hul vinnige optrede en spanwerk wat tot die slagoffer se redding gelei het.
Twee verdagtes is in ’n gekoördineerde spanpoging gearresteer en die ontvoeringslagoffer is ongedeerd gevind. Foto: CDK Sekuriteit
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’