GRAAFF-REINET SAKENUUS - Pioneers Restaurant & Pub in Graaff-Reinet vier dié maand 'n dekade se sukses.
Dié restaurant hoef nie aan plaaslike inwoners bekendgestel te word nie, dit is immers een van die dorp se mees gewildste kuierplekke.
Hier lei die gesellige vermenging van lekker kuier en kos automaties tot lang kuieraande. Nie net plaaslike inwoners nie, maar besoekers van regoor die wêreld, word daagliks hier deur eienaars Roelien van de Putte en Almare Fourie verwelkom.
Roelien en Almare is Graaff-Reinetters in murg en been.
Oor die pas-afgelope 10 jaar het hulle dié kuierplek in 'n knus restaurant met 'n hartlike atmosfeer omskep wat 'n onlosmaakbare deel van Graaff-Reinet se kultuur geword het.
Pioneers se grootste trekpleister is sy hart-en-siel-kos, met tradisionele resepte wat weer nuwe lewe kry in die Pioneers-kombuis.
"Ons is passievol oor ons eg-tradisionele kosse en bestaan ons à la carte-spyskaart uit 'n keurspel van tradisionele smake en disse," sê Almare.
"Daar is natuurlik ook 'n paar meer avontuurlustige disse op die spyskaart om diegene wat iets meer interresant verkies se smaakkliere geïnteresseerd te hou."
"Vir ons gaan dit om elkeen waarlik tuis te laat voel met 'n wenresep wat geskool is op die passie en visie van mense wat hou van hoe hulle lewe en dit met ander wil deel," vertel Almare.
Hier sal jy geen vreemde Franse terme of fynproewer-snobisme vind nie, slegs eerlike, tuisgemaakte kos, gemaak van die beste plaaslike bestanddele.
Dink aan tradisionele Karoo tjoppies, afval of 'n liplekker beesstert-gereg. Pioneers-gunstelinge is beslis die Kudu-schnitzel, bobotie, of heerlike lamsnek wat sonder moeite van die been af val.
Hul smul-lekker kalamari is ook 'n moet.
Vir Roelien, is die lekker kuier-atmosfeer net so belangrik soos die heerlike kos wat hier bedien word en maak sy seker daarvan dat geen moeite ontsien word om te verseker dat alle besoekers hartlik verwelkom word en net die beste diens ontvang nie.
Dit, vertel Roelien en Almare, is waarom selfs hul oorsese gaste weer en weer terugkeer. In die winter brand 'n gesellige vuurtjie terwyl vriende en gesinne om 'n heerlike bord kos sit en kuier. In die somers, word daar heerlik onder die Karoo se sterrehemel gekuier.
Kroegman, Daniël Marlow, en 'n ten volle gelisensieerde kroeg bied die nodige lafenis.
Wat is die geheim wat tot die viering van dié besondere mylplaal gelei het? Uitstekende kos... baie van dit en diens uit die boonste rakke, oftewel so meen die menige klante wat Pioneers reeds vir die vyfde jaar agtereenvolgens as een van die beste eetplekke in die Karoo op die webwerf TripAdvisor gelys het.
Roelien en Almare nooi graag hartlik almal, hetsy gereelde besoeker of diegene wat nog nooit besoek afgelê het nie, om Pioneers Restaurant & Pub te besoek.
Op die volgende 10 jaar!
'n Voorsmakie van die heerlike kos wat by Pioneers op jou wag.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'