GRAAFF-REINET SAKE NUUS — Met die Graaff-Reinet VLV-tak se mees onlangse vergadering gehou in Augustus, het Lieze Geldenhuys, die tak se Leefstyl-sameroeper, 'n interresante byeenkoms aangebied.
Na die verwelkoming deur die voorsitter, open Geldenhuys die vergadering met 'n skriflesing uit Nina Smit se boekie 'Omvou my met U Liefde'.
Hierdeur het sy elkeen teenwoordig herinner dat die vrou eintlik soos 'n roosmaryn-plantjie versorg moet word, gereeld water moet kry om goed te groei en 'n lieflike geur deur die wêreld moet versprei.
Na die algemene sake afgehandel is spreek Susan Davis die dames toe oor haar unieke produk - die Agavesol-velroom - wat onlangs bekend gestel is.
Davis vertel hoe die produk sy ontstaan gekry het en vertel dan verder dat die produk uiters effektief werk vir muskietgejeuk, masels-uitslag en ook ekseem.
Volgens Davis is die produk uiters ongewoon in die opsig dat dit geen onnatuurlike middels bevat nie - dit bestaan 97% uit die Agave-ekstrak, met slegs 3% verdikker wat daarby gevoeg word. Dié is 'n room wat absoluut eie is aan die Karoo en Graaff-Reinet.
Die plante groei hier in organiese toestande, bevat gekonsentreerde plant-chemikalië weens die droogheid van die klimaat, en die produk is net hier in ons dorp ontwerp en ontwikkel. Talle mense kan getuig dat hul reeds groot baat by Agavesol Anti-Itch Cream gevind het.
Riana Jonker lewer toe 'n verslag oor die pas afgelope 87ste VLVK-jaarkongres wat hierdie jaar deur sirkel Middelland aangebied was.
Die tema vir VLV-Kaapland vir 2017 - “Aanpasbare Vroue” - is hier ook bekend gemaak.
Die vereniging werk hard om die moderne vrou weer te gee in sy bedrywighede, en dit bly vir elkeen 'n plek van verryking. Die lede se aandag is egter meestal gevestig op die reeks gemeenskapsprojekte waarby elke tak betrokke is.
Die vereniging se projekte strek van sorg vir bejaardes tot hulp vir boere wat in die noord-oostelike dele van die provinsie weens droogte swaarkry.
Die vergadering is afgesluit deur Adri Landman wat gedemonstreer het hoe om 'n rangskikkings met slegs loof saam te stel.
Na 'n uiters leersame vergadering geniet die dames toe 'n eet en drinkdingetjie.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'