KAROO NUUS - André Herselman (29) 'n jong boer van Hofmeyrdistrik, waar hy op die plaas Wilgepos saam met sy pa, Willem boer, is die afgelope week as wenner aangewys van die Veeplaas Toyota 2020 Jong Afslaers People's Choice-kompetisie.
Na voltooiing van sy skoolloopbaan het André plaaslik verder studeer en met verloop van tyd besluit dat hy graag die wêreld wil sien.
Koop en verkoop was van jongs af sy passie, en terwyl hy op die bote gewerk het, en die passie beoefen het, kon hy ook die wêreld sien. "Ek het my roeping as boer steeds vooropgestel, maar wou eers terug plaas toe kom wanneer ek my persoonlike mylpale bereik het," meld die aangename jong man.
Hy was gelukkig om betrokke te kon raak by die grootste kunsmaatskappy in die wêreld, Park West Galleries, en hy het by hulle sy basiese opleiding in Miami voltooi, en as kuns-afslaer op die bote begin werk.
Hy het mettertyd die topposisie as prinsipaalafslaer bereik, en is ook nou 'n jongman met uitmuntende kunskennis wat versamelaars kan assisteer in beleggingskunswerke.
Hy het sy vrou, Marisha, ontmoet tydens 'n vakansie tuis en het haar ook mettertyd ingetrek. "Sy het 'n agtergrond in logistiek en saam kon ons 'n wenspan maak." Saam besit die twee ook 'n indrukwekkende kunsversameling.
André het tydens sy jare op die bote altesaam 140 lande besoek en sommige ook saam met sy Marisha.
Sy werk het behels dat hy vier tot vyf kunsveilings per week hanteer het nege tot tien maande per jaar, vir bykans vyf jaar. André het plaas toe gekom na sy huwelik met Marisha. Hulle woon nou op Wilgepos en het 'n 18 maande-oue dogtertjie, Nileah.
"Ek wil bitter graag weer my passie volg as afslaer, en veral ook in die boerderyrigting. Ons is immers boere en die boerdery is in my bloed," stel André dit duidelik. "Ek is opgewonde oor wat die toekoms inhou, en oefen reeds om Afrikaanse veilings net so vlot aan te bied."
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'