GRAAFF-REINET NUUS - Daar was onlangs 'n geskarrel en opwinding in Aberdeen se gemeenskap, nadat Wellington VLV lede van Aberdeen se Boerevereeniging bederf het met Bokse vir Boervroue.
Volgens Lea van der Vyver, 'n lid van die Aberdeen VLV, was dit toe die verantwoordelikheid van haar mede-lede om die spesiale pakkies uit te deel aan vrou van die droogte-geteisterde distrik.
"Daar is 'n gewerskaf om die pakkies te vervoer na die Aberdeen Klub, waar die bokse verdeel is," het Van der Vyver verduidelik.
"Daar sal nie 'n dag gehou word waar almal spesiaal dorp toe moet ry om hulle pakkies te ontvang nie, aangesien dit ekstra koste en tyd is, wat in die droogte skaars kommoditeite geword het."
Om die boervroue verder te ondersteun help die gemeenskap om dié pakkies by hulle uit te kry. "Almal is so dankbaar en oorweldig deur die omgee van anonieme skenkers. Die proses het ons geleer om ook uit te reik na dié om ons."
Van der Vyver het namens Aberdeen se boervroue die Wellington VLV bedank. "[Dankie ook aan] die hele Suid-Afrika wat so ywerig bokse pak en skenk om vir boervroue te stuur. Julle is instrumente in die hand van ons Hemelse Vader!"
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'