ABERDEEN LADNBOU NUUS — Die sybokhaarbedryf is onder geweldige druk.
Dit word veroorsaak hoofsaaklik deur die mees vernietigende droogte op rekord waarvoor daar steeds geen einde in sig is nie, asook die stryd van boere om hulle diere te versorg onder sulke moeilike omstandighede gepaard met die finansiële impak daarvan.
So enige goeie nuus vanaf die markplek is soos 'n welkome harde bui reën!
Op die spesiale Ermenegildo Zegna kompetisie veiling, waar die beste baal somer kleinbokkiehaar in die wêreld bepaal word, is die wêreldrekordprys vir sybokhaar vyf keer gebreek in 'n kwessie van minute.
Na sterk kompetisie tussen die twee groot plaaslike verwerkers van bokhaar, is die bod toegeslaan op die Stucken groep teen R1 246.10/kg vir die baal.
Dié besonderse baal is gelewer deur ma-en-seun span Gay en Jordi van Hasselt van die Prins Albert-distrik.
Dié prys is deur nog 'n wêreldrekordprys opgevolg op die Cape Mohair & Wool (CMW) veiling.
CMW is die veselafdeling van die OVK groep van maatskappye en is die grootste makelaar van sybokhaar ter wêreld.
Die rekord is die keer betaal vir 'n baal grootbokhaar van Charles Fitzhenry van die Aberdeen-distrik teen R360/kg.
Charles het ook 'n rekord opgestel vir die beste gemiddeld ooit vir 'n totale skeersel teen gemiddeld R404.66/kg.
Volgens Pierre van der Vyver, bestuurder CMW se sybokhaarafdeling is die goeie pryse veroorsaak deur 'n sameloop van omstandighede.
Die huidige droogte veroorsaak dat die skeersel fyner en sagter raak, en dan natuurlik ook duurder.
Dit tesame met 'n uitstekende mode aanvraag van dwarsoor die wêreld na sybokhaar en ander volhoubare natuurlike vesels. Van der Vyver sê ook dat dit boekdele spreek van die gehalte van die genetiese materiaal van die Suid-Afrikaanse bedryf om onder die droogte toestande steeds haar van gehalte te produseer. Suid-Afrikaanse boere is bekend vir die teel van die beste gehalte Angorabokke ter wêreld.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'