SUID-KAAP NUUS - Welmenende byeboere wat skenkings wil maak om byeboere in die Knysna-Plettenbergbaai-omgewing te help om weer op die been te kom, kan onwetend veroorsaak dat die gevreesde Amerikaanse Jongbysiekte (AFB) na die gebied versprei.
Volgens Mike Miles, voorsitter van die SA Byebedryf (SABIO) was die Knysna-Plettenbergbaai-omgewing tot dusver vry van byesiektes soos Amerikaanse Jongbysiekte (AFB).
"Ons is bekommerd daaroor dat korwe wat van besmette gebiede af ingebring word, die oorlewing van die oorblywende korwe kan bedreig indien die situasie nie behoorlik bestuur word nie," sê Miles.
Ten einde verspreiding van die gevreesde AFB te vermy, word byeboere wat gebruikte korwe of korf-komponente, toerusting – insluitend beskermende klere – of heuning as byevoeding wil skenk, dit deur die Wes-Kaapse Byeboer Ver-eniging (WKBV) se kantoor moet doen sodat dit gesteriliseer kan word voor verspreiding aan byeboere in die Sui-Kaap. Kontak Brendan Ashley-Cooper in die verband by 082 484 0030.
"Ons het groot waardering vir byeboere wat 'n skenking wil maak, maar AFB kan onberekenbare skade aan die Kaapse heuningby in die gebied veroorsaak indien besmette material ingebring word," sê Owen Williams, lid van Knysna Byeboer-vereniging (Knysna Beekeeping Association- KBA) wat help om die omvang van die skade aan die byebedryf te bepaal.
Vernietiging
Die brande wat die omgewing van Sedgefield tot Plettenbergbaai vroeër vandeesmaand in puin gelê het, het nie net die bye se voedingsbronne vernietig nie, maar ook sowat 300 korwe en swerms is vernietig.
Volgens Williams het sowat 50 geregistreerde byeboere hul korwe en swerms verloor. Die bye het weens die sterk wind van 70-75 km/u tydens die brand nie kans gehad om voor die aankomende brand weg te vlieg nie, en so het 95% van hulle omgekom.
"Nie een van die byeboere het 'n leë korf, wat daarop sou dui dat die swerm weggekom het, in die afgebrande gebied gevind nie. In elke geval was die dooie bye steeds in die korf, die verf op die korf het geborrel of daar was net 'n hopie as, was, draad, aluminium en dooie bye oor," sê Williams.
Voeding
Byekorwe en swerms wat die vuur oorleef het, is verskuif na gebiede wat nie deur die brand geraak is nie. "Dit plaas geweldige druk op bye in daardie gebiede wat steeds gebuk gaan onder die droogte," sê Williams.
Die oorlewende swerms in korwe en wilde bye in die hele gebied word tans suikerstroop in oop houers gevoer.
Volgens Williams sal 'n stuifmeel-substituut binnekort verskaf kan word aan byeboere in sleutelareas.
Die invloed op wilde bye word volgens William illustreer deur die feit dat slegs een byeboer in die gebied van nagenoeg 100 km x 30 km daarin kon slaag om 'n swerm wilde bye te vang.
Reddingsplan
Gift of the Givers het finansiële hulp aan byeboere in die gebied verleen. HopefortheHoneybees, 'n nie-winsgewende organisasie, het tot stand gekom om bystand te verleen. Gift of the Givers het onder meer suiker ter waarde van
R50 000 geskenk sodat die oorlewende bye suikerstoop gevoer kan word.
"Die KBA skakel by die projek in sodat die hele byeboergemeenskap kan saamwerk om die bye weer op dreef te kry," sê Williams.
Byeboere word versoek om per e-pos met die hulpverleningsaksie kontak te maak by aidforthehoneybee@gmail.com of op Facebook by Hope for the Honeybees met die verenigings kontak te maak.