MURRAYBURG NUUS - Die afgelope week se veiling van sybokhaar was werklik iets besonders, volgens Pierre van der Vyver, bestuurder van die sybokhaarafdeling by CMW.
CMW is die veselarm van die OVK groep van maatskappye en is die grootste makelaar van sybokhaar ter wêreld. Hy en sy tegniese span is dit eens dat dit die beste kwaliteit aanbieding was wat hulle nog gehad het. Wat dit so besonders maak is dat hierdie haar gekweek is onder die moeilikste omstandighede ooit.
Al die kenners is dit eens dat die droogte in die karoo-dele van die Oos-Kaap, Suid-Kaap en Wes-Kaap die ergste is die afgelope 100 jaar en dit woed nog steeds voort.
Dit is ook ongelukkig hier waar 80% van die sybokhaar in Suid-Afrika gekweek word. Dit sê dus baie van die boere se passie en deernis vir hulle diere, wat hulle teen groot kostes in ‘n baie moeilike tyd met liefde versorg. Ook sê dit baie van die genetiese potensiaal van die diere om in sulke omstandighede nog te kan produseer.
Dit seker ook die rede dat Suid-Afrika die leier in die wêreld is met die beste kwaliteit.
Volgens Van der Vyver was dit ook die veiling met die beste gemiddelde prys per kilogram ooit.
Sybokhaar Suid-Afrika se markaanwyser het op die rekordvlak van R280.57/kg te staan gekom vir rou haar.
Op die veiling het Driehoeksfontein Boerdery (Frans Retief) van die Murraysburg-distrik die geskiedenis boeke herskryf toe sy baal grootbokhaar ‘n nuwe wêreldrekordprys van R348.00/kg behaal het.
Dit was vir ‘n 28 mikron baal met ‘n 88% skoonopbrengs.
Die hoogste prys van die dag het gegaan aan Ben van der Westhuyzen van die Adelaide-distrik vir sy beste baal somer kleinbokkiehaar wat teen R583.00/kg verkoop het.
Die seisoensrekordprys is betaal vir ‘n 23 mikron baal met ‘n 91.1% skoonopbrengs. Al die rekordprys bale se haar is vooraf deur die EGT metode gesorteer met tegniese hulp van die OVK labaratorium in Port-Elizabeth.
'Ons bring jou die nuutste Murraysburg, Karoo nuus'