ABERDEEN NUUS - Vandeesweek se sybokhaar-veiling van Cape Mohair & Wool (CMW), vesel-afdeling van die OVK-groep van maatskappye, het uitstaande resultate gelewer.
Op die amptelike veiling in die Sybokhaar Beurs in Port Elizabeth was ‘n twee-jaar oue kategorie wêreldrekordprys vir grootbokhaar te midde van groot opgewondenheid aan flarde toe die De Lateganskuil Boerdery van Coenie en Gawie Lategan van die Aberdeen distrik R322.00/kg vir die lot behaal het.
Dit het die rekord van Richard Herold van Graaff-Reinet, opgestel in 2015, met R2.00/kg verbygesteek.
Die baal het 29.1mikron getoets, met ‘n skoonopbrengs van 86.3%.
Pierre van der Vyver, Bestuurder van die sybokhaarafdeling by OVK, berig dat hulle eweneens baie trots is op die CMW saamverpakkingsafdeling wat op dieselfde veiling ‘n vier-jaar oue wêreldrekordprys gebreek het.
Die rekord-bedrag was R317,10/kg vir gewone grootbokhaar. Hierdie baal het 30.1 mikron getoets, met ‘n skoonopbrengs van 87.5%. Beide lotte is deur ‘n plaaslike verwerker aangekoop.
Die hoogste prys van die dag was R480.00/kg en het gegaan aan Phlippie Retief van die Boksfontein Boerdery in die Murraysburg-distrik.
Hierdie prys is betaal vir ‘n goeie-styl baal van 21.9 mikron met ‘n 90.2% skoonopbrengs. Hierdie spesifieke baal is volgens die EGT proses (“Every Goat Tested”) voorberei.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'