LANDBOU NUUS - Universal Leaf Suid-Afrika (ULSA), sowel as die VITAS SA Tabakklub, het onlangs tydens 'n jaarafsluitingsfunksie vir die Wes- en Oos-Kaap, presteerders in dié bedryf vereer vir buitengewone prestasies.
Coenraad Strydom, operasionele bestuurder van ULSA, het tabakboere geluk gewens met uitstekende kwaliteit en opbrengs. "Nie lank terug nie is 3 ton per hektaar opbrengs gesien as bykans onmoontlik.
Vandag is dit amper 'n gemiddelde tabakoes – wenners in die Oos-Kaap en Wes-Kaap het meer as 4,5 ton tabak per hektaar afgehaal," sê hy. Dit, ten spyte van 'n nasionale oesverlies van 17% as gevolg van droogte en haelskade.
"Ons glo dat boere wat nou begin met tabakboerdery, luister na voorligting wat gegee word. Daar is soveel ontwikkeling in die bedryf as gevolg van navorsing en produkproewe.
As 'n boer nie bybly hiermee nie, sal die nuwelinge in die bedryf die ou manne verbyglip wat produksie betref," sê Janno Koen, ULSA se agronomie-bestuurder in die Oos- en Wes-Kaap.
Spesialiteitsprodukte kan ook die bedryf in die toekoms totaal verander. Olivier Duval, die hoof uitvoerende beampte van VITAS SA het 'n paar sodanige produkte bekend gestel en genoem dat sowat 2 500 tegniese bemarkers tans daagliks nagenoeg 20 000 boere wêreldwyd besoek.
VITAS se internasionale navorsing- en ontwikkelingsresultate is nou ook tot Suid-Afrikaanse boere se beskikking, en hulle betrokkenheid by plaaslike tabakproewe sowel as saailingprojekte sal beslis waarde kan toevoeg vir plaaslike boere.
By die funksie het ULSA sertifikate uitgedeel aan die wenners van elke streek, sowel as wisseltrofeë vir spesifieke prestasies. VITAS SA het ook sertifikate, sowel as produkpryse ter waarde van R48 000 oorhandig aan die ses wenners van die twee streke.
Die pryswenners wat deur ULSA en VITAS vereer is: Agter van links is: Dempers Muller (Oos-Kaap: ULSA en VITAS SA 2de,), Riaan Terblanche (Wes-Kaap: ULSA wenner, VITAS SA 2de), Deon Ferreira (Oos-Kaap: ULSA en VITAS SA 3de), Andries en Piet Fourie (Wes-Kaap: ULSA en VITAS SA 3de) Voor van links: Rudie Strydom (ULSA algehele beste oesverbetering Wes-Kaap), Johan Botha (Wes-Kaap: ULSA 2de, VITAS SA wenner), Jerry Strydom (pa van Rudie), Merwe van der Watt (Oos-Kaap: ULSA algehele beste oesverbetering Oos-Kaap) Afwesig: Arries Boerdery: ULSA Beste Algemene Produksiebeplanning Wes-Kaap, HJ Oelofse: ULSA Beste Algemene Produksiebeplanning Oos-Kaap, Klipstoot Boerdery: Oos-Kaap: ULSA en VITAS SA wenner. Foto verskaf
ARTIKEL: SUSAN BOTHA
'Ons bring jou die nuutste Karoo, Hessqua, Tuinroete nuus'