MIDDELBURG NUUS — As daar aan Grootfontein-studente gedink word, wonder mense dalk of hul net heeldag in die klaskamers sit... of dalk agter hul boeke besig is om te leer... of dalk iewers besig is met iets ondeunds?
Op Grootfontein word die groep derdejaar-studente opgedeel in verskillende mini-plase/produksie eenhede waar hulle tydens hul finale jaar aan die kollege, die geleentheid kry om self te boer.
Op kleiner skaal moet hul dan self na die diere, veld, gewasse ensomeer omsien.
Grootfontein MPU (“Mixed Production Unit”) onder leiding van Bryan King, is een van hierdie mini-plase en die enigste produksie eenheid waar daar met gewasse, kleinvee, pluimvee en grootvee geboer word.
Die eenheid boer tans op kleinskaal met onder andere ‘n nguni-stoet (Groties Nguni Stoet), varke, merino’s, groente, lusern en mielies.
Dis tans die veelsydigste produksie eenheid op die kampus en word deur 14 hardwerkende studente van regoor Suid-Afrika beman. By hierdie eenheid leer hulle dus nie net van een tipe gewas, ras of klas nie, maar kry eerstehandse boerdery kennis op verskeie gebiede.
'Ons bring jou die nuutste Middelburg, Karoo nuus'