STEYNSBURG NUUS - Ek was nog in die grondslagfase toe die juffrou vir my gesê het ek moet 'n aktrise word, vertel die 31-jarige Jone-Lee-Celest Abrahams.
"Maar meneer Brian, my laerskool-klasonderwyser, het die grootste effek op my besluit om aktrise te word, gehad. Hy het geglo dat ek die vermoë het om dit ver te bring en ek werk steeds baie hard om dit te laat realiseer."
Hierdie pragtige jonge dame het in die Steynsburgse gekombineerde skool, en later in Hawston Primêr en Sekondêr haar skooljare voltooi. Sy is direk ná skool reeds opgeneem in dramakringe en kon dadelik begin werk om haar drome waar te maak.
"Ek moes Johannesburg toe trek en dit het 'n reuse-omwenteling in my lewe as plattelandse dogter veroorsaak. Natuurlik gaan dit nie altyd goed nie, maar ek volg my drome en doen enige werk wat oor my pad kom. Ek glo, soos alle aktrises, dat ek binnekort 'n baie bekende aktrise in Suid-Afrika sal wees.
"My optredes in die sepies, The Queen, Isibaya, Unmarried, Lioness en Scandal was elkeen vir my persoonlik 'n deurbraak. My grootste droom is egter om eendag 'n rol in 7de Laan los te slaan."
Soos so dikwels gebeur is dit plattelandse kinders wat groot hoogtes bereik omdat hul eenvoudig soveel harder moes werk om bo uit te kom. Jone-Lee-Celest Abrahams bewys weereens dat 'n doodgewone plattelandse tiener vanaf 'n klein plattelandse nedersetting soos Steynsburg, haar merk op die internasionale TV-netwerk kan maak.
Jone-Lee-Celest Abrahams is die dogter van Patrick en Audrey Tobias van Steynsburg.
'Ons bring jou die nuutste Steynsburg, Karoo nuus'