SUID-KAAP NUUS - Die Trekkers Buitelug- en Ontspanningsklub van Eden het die winterkoue en oggendryp getrotseer om tydens die Calitzdorp Winterfees by die spa tent op te slaan en die fees te geniet.
Die groep se eerste stop was by Boplaas waar middagete by die bistro geniet is. Portwyne is natuurlik ook geproe en teen die winterweer ingespan.
Voorsitter Jaap Rabie het tydens die Boplaas-besoek verduidelik dat die Portfees voortaan as die Calitzdorp Winterfees bekend sal staan omdat die dorp en omgewing baie meer as net portwyne bied.
Die volgende stop was by De Krans waar ook heerlik gekuier is.
Hier het Judy Rabie vir Tinkels Otto, wat saam met haar in die Vrystaat op skool was, raakgeloop. Sy het die wynproe by die kelder aangebied en was die twee voormalige klasmaats nie aangenaam verras om mekaar na soveel jare weer te sien nie.
Rabie het, nadat hy die kelder se bekroonde Touriga Nacional geproe het, sommer 'n hele kis teen 'n afslagprys gekoop. Die 2015-wyn spog met 4 Platters sterre en is met die NWC eerste prys bekroon.
Later die dag het veral die vroue die kaaskoek van Calitzdorp Kelder gate uit geniet.
Die volgende dag het die groep na Karooboom langs die R62 afgesit waar onder andere ontbyt genuttig is. Die veteraanmotor en outentieke ossewa by die eetplek het ook heelwat aandag geniet.
Die klub se volgende uitspan is op 28 Julie by Oppi Dam buite De Rust wanneer daar ook 4x4 gery gaan word.
Voornemende kampeerders kan vir Jaap Rabie by 072 094 4268 om meer inligting oor die klub skakel.
ARITKEL & FOTO: JANNIE MEYER
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'