OUDTSHOORN NUUS - 'n Splinternuwe kortfilm, Skoolboelie, word tans in Oudtshoorn geskiet en 'n klomp plaaslike gesigte sal daarin te sien wees.
Skoolboelie kom uit die pen van Cedrick Africa, 'n bekende skrywer, wat binnekort sy derde boek op die rakke gaan hê.
Volgens hom is dit 'n kortverhaal uit sy nuutste boek.
"Terwyl ek aan die storie gewerk het, het ek gesien dat daar soveel meer potensiaal in die storie steek. Dit so relevant tot vandag. Ek het toe besluit het om 'n kortflim daarvan te maak."
Die storie
Skoolboelie handel oor 'n 14-jarige seun wat by die skool geboelie word. Hy het saam met sy ma en pa uit die Groot-Karoo na Oudtshoorn verhuis en wil nie regtig na 'n nuwe dorp toe verhuis het nie.
Hy is egter te bang om die storie met sy ma te deel omdat sy ma baie siek is. Die probleem is dat die boelie nie besef dat hy besig is om die seun seer te maak nie. Die boelie kom self uit 'n baie moeilike huishouding waar die pa aan skomfaan verslaaf is.
Die hoofrol van Shani Moos word deur die 14-jarige Thato Mbambe vertolk. Sy pa, Herrie word deur Leach van der Westhuizen gespeel en sy ma, Lisa, se rol word deur Zelda Arries gespeel.
Van links is Leach van der Westhuizen, Justin Fortuin, Cedrick Africa, Tanelle Welff-Dixon, Yvonne Thomas en Zelda Arries. Voor sit Thato Mbambe. Foto: Liezl van Niekerk
Die boelie, Ou Jan Januarie, word deur Jumain Bruintjies gespeel. Sy pa, Jaffie, se rol word deur Africa self vertolk en Africa se vrou, Sherom, vertolk die rol van Ma Trien, die boelie se ma.
Twee polisiebeamptes speel ook groot rolle in die storie. Sersant Niklaas Basson word deur Justin Fortuin vertolk en ao. Linda Beukes deur past. Tanelle Welff-Dixon.
Ousie Makkie, 'n vrou van die gemeenskap wat agterkom dat Shani geboelie word, word deur Yvonne Thomas gespeel. Mnr. Lategan, Shani se onderwyser, word deur Pat Blaauw vertolk.
Lees meer op susterskoerant, Oudtshoorn Courant
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'