GRAAFF-REINET NUUS — Moses Williams, die komediant en boorling van Graaff-Reinet wat tans in George woon, het Sondag, 29 April, bewys dat hy altyd slaggereed is om 'n lekker grappie te vertel.
Williams, algemeen bekend as Coloured Laaitie onder sy ondersteuners, kan uiteindelik na sy Home Avêrs uitverkoop vertoning by George-burgesentrum, een droom van sy droom lysie afmerk.
"Ek het die grootste gemeenskapsaal in die Suid-Kaap gevul met ondersteuners, een ideaal het ek bereik," sê Williams.
Home Avêrs was vir Williams spesiaal, want dis die eerste keer dat sy hele familie al die pad vanaf Graaff-Reinet reis om hom in aksie op die verhoog te sien. Oud en jonk het die vertoning bygewoon en behoorlik hulle maagspiere getrek van lekker lag toe Coloured Laaitie op die verhoog verskyn.
Home Avêrs was sy tweede uitverkoop vertoning na Kleurling Sake verlede jaar by Oakhurst George Arts Theatre. Moses se passie vir komedie het gegroei gedurende sy hoërskoolloopbaan op George. "Ek het soos 'n Shakespeare Superman gevoel," beskryf Williams sy emosie na sy eerste vertoning, Coloured Laaitie in 2013. Nog eenmanvertonings sluit in, Ware Leeuns en Kroes is Woes.
Williams het in ‘n familiehuis in Santaville grootgeword.
Hy het Ryneveld Primêr en toe Spandau Sekondêr bygewoon. “Toe ek jonger was het ek saam met ‘n besigheidsman groente op sy bakkie verkoop vir ‘n loon van R7 per dag. Dit het bygedra tot die groei van my karakter vandag. Dis belangrik om te leef en die beste te maak van alles al is dit hoe min,” onthou Moses sy jare op Graaff-Reinet.
Williams sê hy beoog om binnekort, tussen Julie en Augustus, ‘n vertoning op Graaff-Reinet te hou sodat die mense van sy naelstring dorpie ook ‘n smakie kry van sy grappies.
Persone wat belangstel om die DVD van uitverkoop vertonings, Home Avêrs of Kleurling Sake te koop, is welkom om vir Moses op 074 301 2415 te kontak.
Al die pad vanaf Graaff-Reinet. Voor van links, Geraldine Williams (suster), Helloise Saaiman, Claudia Williams (ma) op haar skoot sit nog 'n Claudia Williams, Sarie Kuboni (ouma) en Junior Williams. Agter, Leezan Williams (broer) Jason Jafta, Simone Cloete (lewensmaat) met sy en Moses se seun, Khilermo Cloete, Moses Williams, Orion Williams, Jonathan Lewies, Andile Williams, Donovan Jafta, Ricardo Williams en Jerome Koopman.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'